Lientjie Mentz
In ‘n sprokieswoonstel waar Tannie Middel C en haar man, Oom Daan, in ‘n pophuis-paleis woon, droom ‘n vrou hoe sy by kinders ‘n liefde vir musiek aanwakker.
Karen Franzsen se besonderse boek Die Paleis van Tannie Middel C is tegelyk ‘n feeverhaal en ‘n prettige manier waarop kinders van drie tot tien jaar musiek kan leer.
Franzsen se liefde vir musiek kom oor baie jare. Die boek is gebaseer op ‘n visioen wat sy eers op agt jarige ouderdom en toe weer later in haar lewe, op 60, gehad het. Hierin het sy ‘n berg gesien, met ‘n dubbelverdieping paleis bo-op die berg. Voor die paleis het mense gestaan. Sy het begryp die berg is simbolies van ‘n klavier en die dubbelverdieping van die paleis die klawerbord. Die mense voor die paleis is die note.

Die beeld van die berg en die kasteel van Tannie Middel C het die afgelope tyd lewe gekry in die vorm van ‘n musiekboek waarin kinders die prente kan inkleur en aktiwiteite kan voltooi namate hulle daardeur werk.
Franzsen het al die illustrasies sorgvuldig met die hand geteken en al die lesse in die boek is geskryf om so eenvoudig en maklik verstaanbaar moontlik te wees.
Sy sê dit is al bewys dat kinders gou verveeld raak en dat gebruiklike musieklesse hulle nie altyd boei nie.
“Die boek is oor baie jare geskryf,” sê sy.

“Met hierdie opvoedkundige sprokiesverhaal is dit moontlik dat kinders reeds op ‘n vroeë ouderdom met musiek begin en gereed sal wees om reeds jonk hul eerste musiek-eksamen suksesvol te voltooi.”
Franzsen sê sy werk nou daaraan om die boek in Engels te vertaal.
• Maak kennis met die musiekplesier van
Tannie Middel C en kie op ‘n bekendstellingsgeleentheid op 28 Maart om 18:00 by die Bybelhuis in Nelson Mandelarylaan. Toegang is gratis. Ligte verversings sal bedien word. Bevestig bywoning vooraf by 067-389-9353.

You must be logged in to post a comment.