Mylpaal met saamkuier gevier

Groot feesvieringe word beplan wanneer die NG kerk Bloemfontein-Wes in Mei sy 90ste bestaansjaar vier.


Die NG kerk Bloemfontein-Wes se gemeentelede beplan ’n basaar soos in hierdie foto uit die argiewe. Van links is Niël Barnard, Lood Groenewald en Claudette Buitendag.Foto’s: Lientjie Mentz

Groot feesvieringe word beplan wanneer die NG kerk Bloemfontein-Wes in Mei sy 90ste bestaansjaar vier.

Ds. Johan David, predikant by dié gemeente sedert 2016, sê dit is ’n gemeente met ’n wonderlike gees.

“Ek beleef regtig ’n omgee vir mekaar onder die lidmate. Dit voel soos ’n plattelandse gemeente in die stad.”

Die gemeente is in 1934 in Ons Kinderhuis se saaltjie begin voordat die kerk later gebou is, ontwerp deur die bekende argitek Gerhard Moerdyk.

Lood Groenewald, een van die gemeentelede wat reeds sedert 1974 en weer vanaf die tagtigerjare by die kerk betrokke is, sê die kerk het in die jare sewentig gebloei met sowat 4 000 lidmate.

“In daardie jare was daar vier predikante en ook ’n polisiekapelaan,” vertel hy.

Niël Barnard (72) sê hy is al ’n leeftyd in die gemeente.

“Ek is hier gedoop, aangeneem, getroud en my pa is uit die kerk begrawe. Dit is waar ek tuis is.

“Jare gelede was die gemeente so groot dat twee nagmaaldienste gehou moes word. Ek onthou nog hier was verpleegstudente, leerlinge van Grey-kollege, Kovsie-studente, inwoners van Wilgehof, asook die kinderhuiskinders en bejaardes in die kerk.”

Mettertyd is kerke oral in Universitas, Wilgehof en ander dele van die stad gebou met nuwe gemeentes wat ontstaan het en selfs ’n kerk wat in Westerbloem ingerig is.

David sê die kerk het ’n unieke gemeenskap wat dit onderskei van baie ander gemeentes.

“Hier is baie bejaardes uit Westerbloem, veral uit fase 8. Ons stap ook al die jare ’n pad saam met Engo se Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum met ’n gefokusde jeugbedienaar wat na die kinders se geestelike welstand omsien.”

Om die kerk se 90ste bestaansjaar te vier, word ’n feesnaweek van 24 tot 26 Mei beplan.

“Die Vrydag hou ons reünie met ’n spesiale ete vir almal wat vroeër jare by die kerk betrokke was,” nooi David.

Die kaartjies kos net R90.

Beperkte plekke sal by die fees-ete beskikbaar wees.

Bespreek deur ’n WhatsApp-boodskap aan Conrad van der Merwe te stuur by 076-718-8506.

Saterdag word daar van 09:00 tot 15:00 behoorlik basaar gehou met ’n groot verskeidenheid stalletjies en pret vir oud en jonk.

Daar sal springkastele vir die kinders, pannekoek, basaarpoeding en ’n wit olifant-tafel wees.

Die kinders sal 10:00 na ’n poppekasvertoning in die kerk kan gaan kyk en om 12:00 sal ’n verskeidenheid kore in die kerk optree.

Die feesnaweek word Sondag afgesluit met ’n nagmaaldiens om 10:00.

Ds. Johan David met ’n foto van die destydse kinderhuis-saaltjie waarin die kerk begin is.

You need to be Logged In to leave a comment.