Mynmaatskappy amptelike beskermheer van kleinflamink

Die Ekapa-mynmaatskappy in Kimberley is onlangs amptelik deur BirdLife Suid-Afrika aangewys om namens hulle en BirdLife Internasionaal ook as ‘n beskermheer van dié kleinflaminkspesie op te tree.


Die Ekapa-mynmaatskappy in Kimberley is onlangs amptelik deur BirdLife Suid-Afrika aangewys om namens hulle en BirdLife Internasionaal ook as ‘n beskermheer van dié kleinflaminkspesie op te tree.

Dit behels onder meer die aanmoediging en inwerkingstelling van voorkeurbewaringsprojekte asook jaarlikse monitering en verslaggewing van dié voëlspesie se bewaringstand.

Ekapa was oor die jare heen betrokke by veldtogte en optredes om kleinflaminke veral op die Kamfersdam-pan en elders te beskerm. Die pan is onder natuurlike omstandighede nie altyd vol water nie. Die Sol Plaatje-munisipaliteit pomp reeds dekades lank gesuiwerde rioolwater in die pan.

Die pan is vanweë mildelike reën die afgelope twee seisoene tot oorlopens vol water, wat veroorsaak dat daar nie veel flaminke op die pan is nie. Water verweer ook die N12-roete, waaroor die padagentskap Sanral sy kommer uitgespreek het. Twee Transnet-spoorlyne loop ook langs die pan.

Ekapa het meer as ‘n dekade gelede ‘n  eiland in die pan gebou waarop die watervoëls veilig en weg van menslike aktiwiteite kon broei. In 2018 was hulle ook betrokke toe die pan byna opgedroog en sowat 2 000 kuikens gered is. Dié kuikens het op neste uitgebroei aan die suid-westelike gedeelte van die pan.

Die maatskappy is steeds betrokke by die rehabilitasie van beseerde watervoëls op Kamfersdam. Volgens ‘n ingeligte is die amptelike ooreenkoms met BirdLife SA net ‘n stempel op bewaringsprogramme wat die maatskappy reeds doen as deel van sy handelsbedrywighede en verantwoordelikhede.

Luidens die ooreenkoms moet die maatskappy ook voorkeurprogramme van ander internasionale bewaringsorganisasies in werking stel en plaaslike bewaringsgroepe ondersteun. Hulle moet ook navorsing op Kamfersdam en ander plekke van belang doen deur die ideale omgewingstoestande van die kleinflamink te bepaal deur byvoorbeeld waterdiepte en watergehalte na te gaan en voëls te tel. Bedreigings is belangrik wat die voortbestaan van die kleinflamink benadeel, en ingrypingplanne moet beraam word indien nodig.

Die maatskappy moet met ander beskermhere saamwerk en met navorsers kommunikeer, hulle ondersteun en aanbevelings help toepas. Die inwerkingstelling van ingrypings moet gekontroleer word.

Nog een van die verantwoordelikhede is om die belangrikheid van Kamfersdam as bewaringsgebied vir kleinflaminke onder belanghebbendes soos regeringsdepartemente en inwoners se aandag te bring. Een van die oogmerke is om Kamfersdam formeel te beskerm en dit amptelik as ‘n bewaringsgebied te laat verklaar.

Ander bronne soos byvoorbeeld navorsers, omgewingsbewaarders en voëlkykers se gepubliseerde en ongepubliseerde inligting en navorsingsbevindings oor die voëlspesie se bewaringstand moet in ‘n versameling gehou word. Tersaaklike inligting moet gereeld aan belanghebbendes versprei word, wat goedgekeurde persverklarings insluit.

Personeellede mag beseerde voëls red, rehabiliteer en weer vrylaat.

Die grondeienaar waarop die grootste gedeelte van Kamfersdam geleë is, moet ondersteun word sodat Kamfersdam formeel beskerm word.

Enige geldinsamelingsveldtog van BirdLife SA moet ondersteun of in werking gestel word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.