’n Groep Bloemfonteiners het saamgewerk om ’n splinternuwe dokumentêre rolprent vir kykNET se Silwerskermfees te maak.
Die vervaardiger, Charlene Stanley, sê die rolprent ’n Gids vir Louzanne is onder die ses dokumentêre rolprente wat vir dié fees in September gekeur en vervaardig is.
“Dit handel oor meer as net Louzanne Coetzee se merkwaardige sportloopbaan,” sê Charlene. “Die rolprent gaan oor die rol wat gidse in haar sportloopbaan gespeel het.
“Ons gesels met die mense wat as gidse vir haar optree en die groot verantwoordelikheid wat hulle neem wanneer hulle saam met haar hardloop.”
Louzanne en haar atletiek-gids, Estean Badenhorst, het Maandag 10 Julie haar nuutste silwermedalje behaal in die 1 500 m in Wêreld Paralimpiese Kampioenskap in Parys, Frankryk, in haar afdeling, T11.
Met die prestasie het sy nou gekwalifiseer vir die 1 500 m asook die marathon op die Paralimpiese Spele in Parys volgende jaar. Dit sal die derde keer wees waarop Louzanne aan ’n Paralimpiese Spele deelneem.
Charlene sê dit is vanjaar die eerste keer waarop dokumentêre rolprente by die Silwerskermfees ingesluit word.
“Ons het die idee voorgelê en dit is gekies uit die voorleggings. Ons het die grootste deel van die rolprent op die Kovsiekampus, waar Louzanne as koshuishoof van Huis Akasia werk, verfilm.”
Sy vertel Claus Kempen, Louzanne se gids vir die marathon, het tydens hul deelname aan die Soweto-marathon verlede jaar met ’n GoPro waardevolle materiaal van so ’n wedloop vir die rolprent gemaak. “Dit vorm nogal ’n groot deel van die film.”
Louzanne, Khotatso Mokone, Claus Kempen en Estean Badenhorst is in ’n Gids vir Louzanne te sien.
Arco Musica het ’n unieke temalied vir die film geskryf en uitgevoer.
Charlene se man, Eddie, was die kinematograaf.
Louzanne se verloofde, Jeandré Badenhorst, het met die klank gehelp.