’n Klein bietjie tyd, handgee of skenking maak wêreld se verskil op Kersdag

Torings van Hoop was een van die begunstigdes van geld wat deur Bon Hotel Bloemfontein-sentraal ingesamel is. Met die Braaimeester-kompetisie is R18 000 ingesamel en op die jaarlikse liefdadigheidsgholfdag is R86 358 ingesamel. Pieter van Rooyen (heel regs) het op Donderdag 7 Desember R61 179 aan Torings van Hoop en R43 179 aan Childline Free State oorhandig. Saam met hom op die oorhandiging is van links Ansie Kinnear (Childline Free State), Tersia Miranda (Bon Hotel), De la Harpe le Roux en André Meyer (albei van Torings van Hoop). Foto: Lientjie Mentz


Torings van Hoop maak weer gereed vir sy jaarlikse viering van Kersdag, waarop ’n maaltyd ná die erediens aan behoeftiges by dié organisasie in die middestad verskaf word.

Torings van Hoop gee daagliks etes aan mense in nood en deel ook gereeld kospakkies uit. Dit is egter met Kersfees dat ’n spesiale poging aangewend word om vir die begunstigdes ware hoop te gee met ’n smaaklike ete en ’n klein geskenk.

Vrywilligers word versoek vir ’n bydrae in die vorm van die skenking van produkte, of om tyd af te staan om die kos te maak, vooraf te verpak of dit op Kersdag op Maandag 25 Desember uit te deel.

Ds. De la Harpe le Roux, uitvoerende hoof van Torings van Hoop, sê hulle beoog vanjaar weer om 500 mense kos te gee.

Benewens die kosbestanddele, word toiletware ook ingesamel wat in geskenkpakkies opgemaak kan word. Dit sluit in buisies tandepasta, tandeborsels, reukweerder en seep. Lekkergoed en pakkies skyfies word ook by pakkies ingesluit.

Rig navrae aan Torings van Hoop se kantoor by 051-430-4274.

You need to be Logged In to leave a comment.