’n Knippie herwinning en skeut omgee die resep vir verandering

Die goeie ou raaisel laat dinge sommer baie eenvoudig klink. Wat is swaarder: 1 kg lood of 1 kg vere?.


Die goeie ou raaisel laat dinge sommer baie eenvoudig klink. Wat is swaarder: 1 kg lood of 1 kg vere?

As jy te vinnig dink en te gou antwoord, kan jy jou lelik misgis.

Die reusagtige bondel vere wat jy jou moet verbeel, wat dalk ’n kilogram sou kon weeg, is immers indruk­wekkend én iets wat jy jou feitlik nie mooi kan voorstel nie.

Dink nou weer vinnig: Hoeveel van daardie plastiekknippies wat gebruik word om broodsakkies toe te hou, moet jy bymekaargooi sodat dit 50 kg weeg?

Om ’n mens so vaagweg ’n idee te gee, juis omdat dit net soos die vere half onvoorstelbaar is, kan ’n paar voorbeelde help.

Ander dinge wat so om en by 50 kg weeg, is 25 standaard­bakstene; vyf sakkies aartappels (dis nou die groot papiersakke waarvan ons hier praat); en so tien of elf huiskatte, of een bulmastiff-reun.

Wat al hoe duideliker raak hoe meer ’n mens hieroor nadink, is dat dit ’n geweldige hoop broodsakkieknippies moet wees waarmee ons hier te doen het. Sakke en sakke vol. Kartonbokse wat oorloop daarvan.

Nouja. Die punt is, daardie 50 kg is die hoeveelheid knippies wat vir herwinning ingeruil kan word sodat een rolstoel aan ’n gestremde geskenk word.

Danksy weldoeners se vindingrykheid het verskeie insamelings oor die afgelope paar jaar dié soort projek aan ons bekendgestel. Dis dubbeldoor-goedheid wat gepleeg word: Mense wat rolstoele nodig het, word gehelp én plastiekbesoedeling word bekamp.

Projekte soos die plaaslike een vir die Tswellang- spesiale skool, bedryf deur die Vrystaatse kantoor van die PSA, is glad nie meer iets nuuts nie. Dis waar dat dit dalk geen verrassing of snaaksigheid is nie.

Wat egter net so waar is, is dat plastiekbesoedeling ook nie iets nuuts is nie. Die eerste kommerwekkende tekens hiervan is reeds in die vroeë sewentigerjare aangeteken.

As die Engelsman meen “charity begins at home”, kan ons seker besluit ’n tree in die regte rigting wat die bekamping van plastiekbesoedeling betref, kan ook tuis by elkeen van ons gegee word.

Ja, ook hier in Bloemfontein.

Kom kuier familie uit die Kaap, kry ’n mens skoon skaam.

Terwyl die gaste help om die kombuis netjies te maak, of wanneer ’n houer leeg is, vra hulle: Ek het die melkbottel uitgespoel – waar sit ek dit vir jou neer? Antwoord: In die vuilgoeddrom.

Wat doen julle met die jogurthouers? Antwoord: in die vullis, Tannie.

Hoe gemaak met dié glas­botteltjie? Antwoord: Nee wat, was dit maar, dan kyk ek of ek dit iewers in die huis kan gebruik om losgoed bymekaar te hou.

Al kan ons nie heeltemal herwin soos die Kapenaars nie, kan ons seker solank dié kultuur kweek?

Nou is die vraag, wat is swaarder: om 50 kg broodsakkieknippies te versamel, of jou gewete oor 50 kg se broodsakkieknippies uit jou kombuis wat al die veld vol lê; wat nooit weer iets bruikbaars sal wees nie, maar eerder ’n aaklige obstruksie in die aarde se spysvertering?

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.