My klaskamer was ’n vaal asbesgebou ver agter op die kampus geleë. Die winter van 2000 was besonder koud. Soggens het hulle styf bymekaar gestaan en wag, die verbleikte sonstreep toegetrap op die stoep af teen die muur.
Ek het oopgesluit en almal het om my tafel saamgedrom. Dit was Samuel se werk om die klein blaasverwarmer bo-op my lessenaar te tel, die knop tot by rooiwarm te draai en toe te sien dat een-een voor die waaier hul hande warm kry. Ek onthou hulle goed. ’n Vrolike groep, gretig om te leer. Pas uit die skool, deel van ’n voorbereidingsgroep vir universiteit.
Samuel was skugter en stil, nooit deel van die voorste linies nie. Sy dun winterbaadjie kon nie aldag die wrede winterkoue van sy tenger lyf wegkeer nie. Sy klasmaats het ’n stille respek vir hom gehad. Hy was hardwerkend en slim, sterstudent van sy groep.
Die winter het verbygegaan en in die somer van daardie jaar moes ek my grys klaskamer en my studente groet.
Ek het vir hulle vertel dat ek na ’n oorsese winterland toe trek terwyl die son nog warm in Bloemfontein sou skyn. Ons het saam gehuil toe ons groet. Hulle het vir my ’n wolserp present gegee. Samuel se ma het dit gebrei.
Toe dit somer word daar ver, het ek ’n brief van Samuel ontvang.
Hy het my nuwe adres by ’n kollega gekry. Die datum op die koevert het vertel dit is reeds drie maande gelede gepos. Samuel se brief was so stil soos hyself. Hy het my met die respekvolle woorde “Dear Mother” gegroet.
Dit het goed gegaan met hom. Hy het ’n studiebeurs ontvang en sy droom was om ’n BA-graad te behaal. Hy het vertel hoe trots sy ma op hom was.
Samuel het weer geskryf, lank daarna. In die koevert was ’n foto van die uitnodiging na sy gradeplegtigheid. Hy het vertel hoe trots sy ma steeds op hom was.
Sy het ’n nuwe rok vir die geleentheid gekoop. Ek het teruggeskryf. Ongeveer drie maande daarna het die laaste brief aangekom. ’n Foto van hom op die verhoog. Dit was net hy.
Sy ma is twee weke voor sy gradedag oorlede.
Die jare het aangestap en ek hou deesdae weer somer terug in my suidland. Verlede week stap ek by ’n winkel uit toe ek ’n sagte “Ma’am?” agter my hoor.
’n Man, so in sy vroeë veertigs skat ek, stap huiwerig nader. Saam met hom is ’n pragtige vrou en twee tienerseuns. Ek herken hom nie. “Samuel”, sê hy. Dit gaan goed met hom en sy gesin. Hy is ’n maatskaplike werker en sy vrou is ’n verpleegster.
Toe ek wegstap, dink ek aan ’n warm troosserp wat ek jare terug gedra het in ’n vreemde land.
En ek wens ek kon vir die onbekende vrou wat dit vir my gebrei het, sê: “Dear Mother, jy sou stééds trots wees op jou seun.”