Die DA in die Mangaung-metro het ‘n amptelike mosie van wantroue in die speaker van die metro, Lawrence Mathae ingedien.
Die mosie is Woensdag 28 Mei ingestel en moet by die volgende raadsvergadering dien.
DA-raadslid Dirk Kotzé sê daar is verskeie redes waarom die mosie teen die speaker ingestel is.
Een van die redes is die onwettige uitsluiting van die media en die publiek op die raad se bedrywighede op 9 Mei toe die raadsvergadering nie op sosiale media uitgesaai is nie.
Daar was ook geen raadsverslae oor die metro se dissiplinêre raad sedert Julie 2024 nie. Hy verduidelik die Mangaung-metro het in Julie 2024 ‘n dissiplinêre raad gestig, maar tot op datum was daar nog geen verslae aan die raad oor ondersoeke of uitkomste van relevante finansiële oortredings nie.
Kotzé sê Mathae het die riglyne van die raad en die multi-party ooreenkoms op deelname van die mediumtermyn-begrotingsdebat oortree toe hy nie die leier van die amptelik opposisie die geleentheid gegee het om sy toespraak te lewer nie.
Mathae het ook volgens die mosie van die DA nagelaat om verslae van die implementering van die raad se besluite voor te lê. “Die speaker is verantwoordelik daarvoor dat oorsig oor die implementering van besluite gehou word. Hy het geen verslag oor die status van raadsbesluite voorgelê nie.”
Kotzé sê die speaker het ook nie mosies wat ingedien is, tydig voor die raad laat dien nie.
Die speaker het ook nie toesig gehou dat politieke amptenare geskrewe Reel 38-vrae wat raadslede ingedien het, beantwoord word nie. Daar is 27 vrae van die DA wat nog nie beantwoord is nie – sommige sover terug as Julie 2024.
Kotzé sê in ‘n verklaring die speaker het nie raadslede se regte beskerm en so effektiewe regering of deursigtiheid moontlik gemaak nie nie.
Ons vra ander raadslede om ons in die mosie te steun en om die mosie van wantroue te ondersteun om die speaker uit sy amp te verwyder. Om geloofwaardigheid, toerekeningsvatbaarheid en effektiwiteit te bevorder moet die speaker vervang word met ‘n nuwe een wat deur die raad verkies word