Van hulle reis al jare saam met my.

Die mees getroues is gedaan, want ek het hulle gereeld herbesoek en my in hul wysheid, verbeeldingrykheid of skoonheid verlustig.

Party ruik stowwerig, voel growwerig terwyl ander hulle jare uitstekend dra en nog ruik asof hulle gister die drukpers verlaat het. Hulle dra saam aan herinneringe en stories, hierdie boekery van my.

Alles het begin met The Wall that Nicky found. Toe ek dit wen en hoor ’n mens kry ’n boekprys vir goeie Sondagskoolbywoning, was ek elke Sondag in Bethlehem se sandsteen Methodiste kerk.

Dalk sou ek nooit die wonder van die Kersfeesklokke en Engelse hymns leer ken het as dit nie vir die lokaas van boeke was nie: Tell me the old, old Story.

Enid Blyton se Famous Five-reeks het die avonturier in my ontwaak. As die Famous Fivemet ’n woonwa gaan kamp het, het ek en my skoolmaats in die sleepwa by die spruit op die plaas gaan oorbly. Ons het gaan visvang, fietsry en bergklim. Die gesinshond, Seaar, saam, want die Famous Five het hul hond saamgeneem.

Op universiteit het my boekrekening vinniger as my kosrekening gestyg. Toe ek tydens my eerste werksjaar deeltyds studeer, was ek bevoorreg om saam met die Angry Young Men-boeke in die wêreld van grootmenswees te land. Shakespeare was later ’n gids deur die korporatiewe wêreld wat my gewys het op die gevare van ambisie (Macbeth) die oor-analisering van die dinge (Hamlet), die aard van verhoudings – die fondasie waarop mens jou werkslewe bou, en dat leierskap luisterskap is (Julius Caesar). Fotograwe van oor die wêreld heen se foto’s het verwondering en passie vir die mooi en onverwagse gebring. Boeke oor politiek en geskiedenis het ere-staanplekke. Hulle bied merkwaardige terugblikke oor die geite en feite van die mensdom.

Noudat my voorgeslag met stories en al in oue­tehuise en begraafplase inbeweeg, en die son nog ’n aardse draai voltooi, wonder ek wat van my boekvriende gaan word wanneer ek die noute begin betree.

Ek vra kollegas wat aftree en na ’n kleiner heenkome trek. Soms word boekvriende sorgvuldig uitgedeel, ander kere argeloos weggegee. Jarelange vriende word bannelinge in welsyns­winkels of winskopies in tweedehandse boekwinkels.

Ek wens ek kon my boekvriende na ’n boeke­tehuis stuur – waar hulle die vreugde van liefderike lesershande nog kan voel as ek nie meer na hulle kan omsien nie. Dalk het hulle al bevriend geraak met mekaar daar op die boekrak. Eendag gaan hulle van my en mekaar geskei moet word.

Maar vir nou, met die nuwe jaar in sig bly daar ook die belangrikste les wat my boeke my geleer het – met die omblaai van elke bladsy wag ’n nuwe avontuur. Mag 2023 se stories vir elk van ons lesers ’n aanloop wees tot ’n merkwaardige storie in 2024.

Geseënde Kersfees en voorspoedige nuwe jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.