Kunstenaars van alle ouderdomme kan weer vanjaar kunswerke indien vir die Pasteur-ooghospitaal se kunskompetisie.
Die kompetisie, wat vanjaar ‘n derde keer aangebied word, is in samewerking met die ATKV-tak Gemeenskapsteater en Signo.
Ebeth Wilson van dié ATKV-tak sê daar is elke jaar meer belangstelling in die kompetisie.
“Ons sien baie uit na vanjaar se kunswerke.”
Vanjaar se tema is “Die wêreld deur my oë”.
Benewens dat verlede jaar se wenners op ‘n spesiale geselligheid vereer is, is hul kunswerke is op verskillende wyses vertoon.
Drie van die kunswerke het op die Oftalmologiese Vereniging van Suid-Afrika se kongresprogram verskyn. Die drie kunstenaars wie se werk op die program verskyn het, is: Kayla Fourie (wenner in die afdeling vir spesiale erkenning), Carien Marais (wenner in die volwasse afdeling) en Catherine Koupis (wenner in die laerskool-afdeling).
Catherine se kunswerk is ook op die voorblad van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se boek oor die geskiedenis van die Departement Oftalmologie gebruik.
Inskrywings kan nog tot 31 Julie gedoen word, en die kunswerke moet teen 29 Augustus by suite 106 van die Pasteur-ooghospitaal ingehandig word.
Enige medium kan gebruik word, op ‘n A3-skilderdoek-paneel.
Inskrywing kos R150 per kunswerk.
Kontak Wilson vir inskryfvorms, en om navrae te rig, by 083 560 9178.