Die Vriende van die Oorlogsmuseum en die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se departement Toerisme en Gebeurtenisbestuur bied vroeg November weer #Bloeminstawalk2022 aan.
’n Instawalk is geskep deur die ikoniese sosiale media platform Instagram waar ’n groep mense bymekaar kom om saam ’n plek te verken.
Dr Eben Proos, die voorsitter van die Vriende van die Oorlogsmuseum en senior lektor by SUT se departement van toerisme sal interessante stories oor die terrein vertel en individue wat die Instawalk bywoon neem foto’s en plaas dit op Instagram. Alle foto’s wat geplaas word gebruik ’n hutsteken op Instagram, om die foto’s en video’s te identifiseer.
Die #Bloeminstawalk2022 vind op Saterdag, 5 November, om 09:30 plaas waar almal by die Afskeid-standbeeld voor die museum ontmoet.
Die Nasionale Vrouemonument, die Bittereinder-standbeeld en die blokhuis sal onder meer besoek word.
Vanjaar is daar ook vir die eerste keer ’n Instawalk-kompetisie waar individue wat die Instawalk bywoon, die kans staan om drie wonderlike pryse te wen. Die volgende stappe moet gevolg word om te kwalifiseer vir dié kompetisie:
- Volg die Vriende van die Oorlogsmuseum op Instagram,
- Woon die Instawalk by.
- Neem foto’s en video’s op die dag tydens die Instawalk.
- Plaas die foto’s en video’s op Instagram met die hutsteken #BloemInstawalk2022.
Alle foto’s moet teen 23:59 op Sondag, 6 November, geplaas word om te kwalifiseer vir die kompetisie. Alle foto’s tel as ’n inskrywing en drie name sal getrek word op 7 November.
- Die pryse wat gewen kan word op die dag is soos volg: 1ste prys is ’n Instax Mini 11 kamera,
- 2de prys is die boek Yeomen of the Karoo deur Rose Willis, Arnold van Dyk en J.C. “Kay” de Villiers, en
- 3de prys is Slagvelde, Gedenktekens en Grafte van die Anglo-Boereoorlogin Bloemfontein en omgewing deur die Vriende van die Oorlogsmuseum.
Eben moedig almal, oud en jonk, aan om die dag saam te kom geniet terwyl daar op ’n prettige en informele manier meer geleer gaan word oor geskiedenis en waar die foto geleenthede eindeloos is.
“Pak ’n waterbottel in, maak seker jy dra ’n hoed en gemaklike skoene, laai die selfone en kom geniet die dag saam met ons.”
Rig navrae aan museumvriende@gmail.com.