Die uitnodiging: “Kom gesels met ons leeskring oor die boeke en boekmense wat ’n verskil in jou lewe gemaak het.”
Tydens die voorbereiding besef ek dat hierdie aanbieding my op ’n heuglike reis gaan neem.
Die storie begin as tuiskind in my voorskoolse jare.
My ouers moes my onder ma se vier-kinders-grootmakende-tuisteskeppervoete uithou.
Ek het soms afgeloer wanneer hulle laataand in die sitkamer sit. Pa, met bandopnemer en mikrofoon voor hom, het biblioteekboeke voorgelees.
Ma met ’n ondersteunende oor. Die volgende week sou dit my soggens besig hou. Stories op kassette. Pa se stem. Die geboorte van audioboeke?
Ek wou verbete leer lees. Dit was onregverdig dat my broers ’n wêreld deur ’n letterportaal kon besoek waartoe ek nie die sleutel gehad het nie.
My gr. 1-juffrou was ’n skrywer: CS Badenhorst bekend as Juffrou Kalfie. ’n Wonderwerker wat wêrelde kon skep met letters.
’n Goeie gr. 1-juffrou is die grootste geskenk wat die lewe ’n skoolkind kan gee.
Daar was ander, soos mnr. Hennie Badenhorst wat die storie van ’n dapper Christen wat uit Rusland gevlug het vir ons in gr. 7 (destyds st. 5) gelees het. Ons het soggens in spanning gewag vir Sergei se volgende avontuur.
Toe ek die Famous Five en Secret Seven in boeke ontmoet, was dit ’n inspirasie vir my skoolvriend Dawie, wat nie lief vir lees was nie, om die boekavonture waarvan ek hom vertel het te verwesenlik.
As die Famous Five in ’n woonwa gaan kampeer het, is ek en Dawie met ’n sleepwa rivier toe; daar was fietstoere, kampvure, bendegrotte (enige plek waar ons onder ’n rots kon inkruip) en ons verbeeldingswêrelde meer grensloos as dié van die Famous Five. Uit my leesliefde het Dawie ons lewe verryk.
In die rolprent Shadowlands word die opmerking gemaak: “We read in order to know that we are not alone.”
’n Boek vergesel jou oral. Van koffiewinkels tot bustoere is boeke nog altyd heerlike introvertgeselskap tussen die roesmoesruisery van die lewe. Maar boeke bied veel meer. Hulle neem ons op reise na binne en buite.
Koos du Plessis: “Wie sou die ware swerwer wees? Die een wat reis, die een wat lees?”
Maar dit is nie net die reise en die wêrelde wat boeke as geskenke bring nie. Daar is karakters. Lettermense.
Goeies en slegtes wat ons in boeke, en soms in die lewe, ontmoet.
Partykeer is storie-karakters vir my werkliker as werklike karakters – en deur oomblikke saam met hulle leer ons, groei ons, en sien ons onsself dikwels vir wie en wat ons is.
En daar is mede-boekmenskarakters. Hulle snuffel saam deur boekwinkels, welsynwinkels en marktafels.
Hullle juig saam oor ’n lank-gesoekte boek wat deur die toorkrag van sinchronisiteit die pad na haar leser vind. Hulle maak aanbevelings, soek aanbevelings en verdwyn dan weer tussen rakke, bokse of trappe – op soek na plekke, karakters en stories wat hulle met nog ’n lewe en reis kan verryk.
Want lesers leef boek-vir-boek nuwe lewens.
En word dan stories.