Is daar vreugde te vind in wasgoed? Dit is ’n sleurtaak met dieselfde hoofkenmerk as enige huishou-werkie: Dit kry eenvoudig nooit einde nie. Want het jy ’n dag lank geleef, het jy klere gedra en moet dié gewas en versorg en weggebêre word. Of ten minste opgehang, netjies oor ’n stoel se rugleuning gegooi of op die allerminste met die hand platgestryk en reggesit.

Ondanks die gedagte dat ’n mens dankbaar behoort te wees dat jy so ’n rykdom het om na om te sien, en die besef dat jy jou seëninge maar saam met elke kledingstuk kan tel, stoei ’n mens daarmee dat die swart gat wat elke nou en dan ’n sokkie se maat insluk, ook kosbare tyd verslind wat jy dalk liewer aan iets anders kon bestee het.

Die een sal sê: Asseblief, net nie ophang nie. Nee wag, nog voor dit: Wie is dan nou lus om die berg te sorteer? Die ander een verpes opvou en wegpak.

Kan die vuil berg nie maar net as ’n skoon berg voortleef, met ’n sporadiese gesoek wanneer iets nodig is nie? Kreukels en frustrasie en algemene sindelikheid skud met ’n frons en ’n swaaiende wysvinger kop.

Soek vir jou ’n vrou wat kan stryk, verbeel ek my die raad in ’n besorgde moederstem. Met daarna ’n oorverdowende gesug van die ganse vrouedom – want dié wat nie kan nie, sukkel hulle flou, en dié wat kan, wil nie.

Of wag, kom ons laat ruimte vir die manne en vroue wat dit wel met ’n lied in die hart doen. In hul geval is dit nie ’n sug wat ek hoor nie, maar die geluksalige geluid van die vuurwarm yster wat stoom afblaas.

Ek is opvouer. Een vir wegbêre. Vir ophang sien ek ook kans.

Dit het dalk iets te doen met my liefde vir alleenwees, en die wasgoedlyn is een plek waar almal wegbly, sou hulle dalk in die werk gesteek word. Weens die daaglikse harwar is ek selfs soms in die nag daarmee besig.

Prent jou nou in: Dit is donker, en die wasgoed is nat en koud, en die pennetjies so moedswillig soos altyd, maar daar is die maan. En wolke wat jy nooit kans kry om só te sien nie – silwerig en deursigtig. Daar is die onverwagse reuk van braaivleis op ’n weeksaand, of die geluid van musiek uit ’n motor in die straat af. Bedags is daar die son wat ’n rukkie op jou kan skyn sonder dat jy aan die draf is na die volgende plek of taak. En al in die ganse wêreld wat op daardie oomblik van jou verwag word, is: ophang; vassteek; nog ’n keer.

Op die plaas was die wasgoedlyn by die moerbeibome. Wind en sonbesies en koeltekolle wat dans. Hier kon dit wel soms voel asof die son ’n gat tussen jou blaaie brand, maar dan was daar ook die vreugde van klere wat na son ruik. In die stad is die wasgoedlyn die soort wat in die rondte draai. Wat my laat glimlag vir geen rede. En selfs sy senuversnipperende geskreeu as hy olie kort, is soos musiek.

Saam met water wat in die masjien tap, of uitstroom as uitspoelwater buite.

Die moderne wasmasjien speel nie verniet ’n deuntjie wanneer hy klaar gewas het nie. Selfs sy hart is vol vreugde. Anders het hy mos net gepiep soos ’n mikrogolf, of hoe?

You need to be Logged In to leave a comment.