Motoriste op die N1 tussen Bloemfontein en Winburg moes Maandag van alternatiewe roetes gebruik maak, ná ’n deel van die N1-suid by Verkeerdevlei gesluit is ná ’n ernstige ongeluk in die vroeë oggendure.
’n Vragmotor en ’n taxi het om 03:45 sowat 17 km voor die Verkeerdevlei-tolhek vanaf Winburg gebots.
Volgens ’n nuusverklaring deur die kantoor van die Vrystaatse Premier, Sisi Ntombela, is 13 mense dood en is nog twee met ernstige beserings en een met geringe beserings in die Pelonomi-hospitaal opgeneem.
Die suidelike baan van die N1 is gesluit vir verkeer en verkeerspolisie is op die toneel om motoriste na alternatiewe roetes te verwys. Dit is nog nie seker wanneer die N1 weer ten volle oopgestel gaan wees nie.
Die LUR vir die departement polisie, paaie en vervoer, William Bulwane, sê dit is jammer dat die feestyd op so ’n hartseer noot begin. Hy het sy meegevoel aan familielede van die oorledenes uitgespreek.
Bulwane het motoriste aangemoedig om hierdie feestyd ekstra versigtig te bestuur omdat die paaie baie besig is oor Kerstyd en Nuwejaar.
Die ongeluk kom slegs enkele dae nadat die jaarlikse padveiligheidsveldtog aangebied deur Life Rosepark Hospitaal Vrydag (09/12) by die Shell Ultra City Pitstop buite Bloemfontein aangebied is.
Op die geleentheid het die LUR vir gesondheid, Montseng Tsiu, gesê dié departement gaan die verkeersafdeling en polisie bystaan by padblokkades op nasionale paaie.
Motoriste maak van alternatiewe roetes oor Brandfort, Theunissen en Welkom gebruik.