“Brebner! Sy is in Brebner! Rooi is mooi, rooi is mooi, rooi is mooi!!!”
Die woorde spring deur my vinnig tikkende duime op my selfoonskerm, kompleet met die onbehoorlikheid van drie uitroeptekens ná mekaar – ’n aartssonde vir enigiemand wat redigering as beroep bedryf.
Op die foto in die WhatsApp-gesprek staan ’n vriendin se dogter in ’n helderrooi T-hemp gereed vir die Laer Meisieskool Oranje se kleureatletiekdag.
Dis dié dat ek so meegevoer raak; skoon uit my beurt.
Baie jare gelede was ek ook in Brebner, Oranje se rooispan.
Ek het ook ’n rooi T-hemp vir die geleentheid van atletiekdae en swemgalas besit, in daardie tyd toe ek beswaarlik enigiets anders as pienk aangetrek het.
Eenkeer, selfs, was daar die rok wat spesiaal by ’n tannie laat maak is sodat ek as ’n matriek in die gala-optog kon stap. Dis nou die instap-optogte wat elke span met trots beplan en mee spog en tot in die fynste besonderhede uitvoer – uitrustings, musiek, die hele gedoente.
“This thing called love, I just can’t handle it…” kaalvoet in die rooi rok al langs die Stadion-swembad.
In my dae op Oranje was Brebner nie algemeen bekend as wenspan nie. Die swemgalas het aan die groenspan behoort, of die bloues. Die geelspan was dikwels atletiekwenners. Ons kon gewoonlik nie eens genoeg indruk maak om die geesbeker te lig nie. Ons betoog: dat ons as rooi blok op die paviljoen elke keer te ver van die beoordelaars sitgemaak is en ons ons krete harder as die res sou moes roep.
Nou moet ek bieg. My geesdrif oor die rooi T-hemp op die foto het my onkant gevang. Ek het swemgalas verpes. Die atletiekdae selfs nog meer. Ten minste was die galas gewoonlik saans, wanneer dit koel was. Daardie dae van flenters brand in die son op ’n paviljoen terwyl jy voorgesê word om al hoe harder te skree in aanmoediging van die atlete, het nie met my as onsportiewe introvert met ’n geneigdheid tot lae bloeddruk in hoë temperature akkordeer nie.
Tog, daar was een keer. Die dag iewers op hoërskool met die kleure-atletiekdag op die skool se destydse atletiekveld, daar waar die sintetiese hokkieveld nou is.
Dit was die dag dat Brebner teen alle verwagtinge in punte op die telbord laat oploop het – en met elke punt wat bykom, juig ons harder. Nog harder. Waar ons sit, die verste van die beoordelaars, na die koshuis se kant toe, bewe die klein paviljoen soos ons voetstamp en spring.
Ek vergeet van my rooigebrande arms (sien jy die ironie in, Liewe Leser?) en my tamatierooi gesig – gloeiend van hitte en die geskreeu. Ons maak geraas soos nog nooit vantevore. Ons lawaai.
En toe die oorlog van kreetskree waarin ons met die span langsaan gewikkel is só erg raak dat ons asem skoon opraak, kom iemand met dié universele, eenvoudige waarheid vorendag wat die ander span so stomslaan dat hulle wegdraai en met die span aan die ander kant skoor soek: Rooi is mooi! Rooi is mooi!
Wie kan stry met ’n kreet wat só perfek rym? Dit was die dag dat Brebner met die atletiekbeker weggestap het. Met die geesbeker onder die ander arm.