BLOEMFONTEIN – Vyf maande ná die gru-ongeluk op die N8 by die verkeerslig by Aljo’s Superspar buite Bloemfontein waarin drie leerlinge van Dr. C.F.Visser dood is, is niemand nog vervolg nie.
Die twee boeties Ryan (6) en Ayden Smit (8) en hul niggie Leané van Papendorp (8) is in die ongeluk oorlede en Tennique Joubert (6) en die bestuurder, Leaná se ma Adri Jonck, is in die ongeluk beseer.
Die bestuurder (19) van die Hilux-bakkie, wat teen Jonck se oranje Chev Spark gebots het, is na bewering nou in Amerika. Ooggetuies op die ongelukstoneel beweer die Hilux-bakkie, wat ‘n sleepwa met staal gesleep het, het nie by die rooi verkeerslig gestop nie.
Martin Smit, die boeties se pa, is gefrustreerd dat niemand nog vervolg is nie.
Kapt Loraine Earl, polisiewoordvoerder sê die ondersoek na die ongeluk is afgehandel.
“Die dossier sal vir die departement van openbare vervolging gestuur word sodra die dossier volledig is sodat ‘n beslissing gemaak kan word,” het sy Donderdag aan BloemNuus gesê.