Om gereed te wees vir die koue Vrystaatse winter het Bloemskou en BloemNuusweer hande gevat in die jaarlikse omgeeprojek vir behoeftiges.
Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou, sê die sukses van verlede jaar se projek was ongelooflik en 18 500 vierkante breiwerk van oor die land heen is ontvang.
“Ons kon eindelik 185 komberse aan ’n groot verskeidenheid behoeftiges uitdeel. Soveel vrywilligers het hul tyd gegee vir ’n goeie saak.”
Van die instansies wat komberse ontvang het, is: die Omega-tehuis vir bejaardes in Heidedal, waar elke inwoner ’n kombers ontvang het; Solidariteit Helpende Hand, wat dit onder behoeftiges in die Vrystaat verdeel het; en Genade in Aksie, wat dit aan behoeftiges in Bloemfontein uitgedeel het. Inwoners van die Mooihawe-tehuis vir bejaardes, Lavender-laan in Ons Tuiste, die Striata-, Serenitas- en Aliquando-aftreeoord, asook die Reddersburg- en Zastron-bejaardesorgsentrum het komberse ontvang.
“Vanjaar kan vrywilligers mussies en serpe brei om behoeftiges teen die strawwe Vrystaatse winterkoue te pantser,” sê Prinsloo.
“Die eerste skenkings van gebreide en gehekelde mussies en serpe is reeds ontvang, en navrae stroom in oor die beskikbaarheid van wol vir mense wat bereid is om te brei, maar nie noodwendig wol kan koop nie.”
Musse en serpe van klein tot groot kan gebrei of gehekel word en sal na afloop van vanjaar se Bloemskou weer in samewerking met BloemNuus aan instansies versprei word.
Skenkings van wol of hekelgaring is welkom.
Kontak die Bloemskou-kantoor vir skenkings, of wol om mee te brei, deur 051-448-9894 of 074-340-6033 te skakel.
Voltooide serpe en mussies kan by die Bloemskou-kantoor afgegee word, of by BloemNuus se kantoor op die tweede verdieping van die Koupis-gebou by Pres. Reitzlaan 107, Westdene.
Bloemskou word vanjaar van 25 April tot 4 Mei aangebied.
Besoek bloemskou.co.za vir meer inligting.