Terwyl die hittegolf inwoners van Bloemfontein steeds teister, erken die Mangaung-metro se stadsbestuurder, Sello More, dat die groot watertekort in die stad gedeeltelik aan nalatige onderhoud toegeskryf kan word.
More het vanoggend op ’n nuuskonferensie in die Bram Fischer-gebou gesê dit is nie moontlik dat die hele water-stelsel op een slag in duie stort nie en daar sal ondersoek ingestel moet word na nalatigheid wat onderhoud betref.
Dele van die noorde van Bloemfontein is al bykans twee weke sonder water en die naweek het alles vererger toe Centlec gister beplande onderhoudswerk gedoen het, ondanks die waterkrisis. Die kragtoevoer na groot dele van die stad insluitend Maselspoort en die Hamilton-pompstasie wat die spilpunt is waarmee water na die noorde van die stad gepomp word, was van ongeveer 05:00 tot 17:00 afgesny.
Dit het verder daartoe bygedra dat inwoners in die noorde van die stad vir die grootste deel van Sondag nie water gehad het nie en dat talle krane steeds droog is.
Die watertekort duur voort en More sê die verwagting is dat die watertoevoer eers teen Donderdag sal begin stabiliseer.
More het ook erken dat die watertekort nie net ongerief veroorsaak nie, maar ook ’n groot terugslag vir produktiwiteit inhou.
“Werkers in die glaspaleis moet vandag weer teen middagete huis toe gestuur word. Ek wil dit nie doen nie, maar ons het nie ’n keuse nie,” het hy gesê. Die tekort aan water veroorsaak dat die gebou se verkoelingstelsel nie werk nie.
Die Hamilton-reservoir in Unielaan was volgens More 53% vol en die Arboretum-reservoir loop nou vol sodat water na die reservoirs in Heuwelsig, Pentagonpark en Spitskop gepomp kan word.
Van die watertenks wat vir Heuwelsig en Pentagonpark beloof is, was daar sowat ’n uur gelede nog geen teken nie.
More het vanoggend gesê daar word ook nou onderhandel met die kontrakteur wat die nuwe pompe by die Hamilton-pompstasie installeer om die oorblywende 20% van die werk te voltooi.
More sê 80% van die werk is klaar en die kontrakteur moet terugkom om die oorblywende 20% te doen.
“As die werk gedoen is, sal dit sekerheid bring in die watervoorsiening in die noorde van die stad.”
Hy sê in die kort termyn sal daar nou aandag gegee word aan die verbetering van pompstasies, terwyl daar nou gesoek moet word na langtermynoplossings vir die stad se water-uitdagings.