Die kantoor van Volksbladse redakteur, soos dit ingerig is by Naln.Foto: Gert Coetzee


Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln), wat hom wy aan die behoud en bevordering van Afrikaanse woordkuns, is vanjaar ’n halfeeu oud.

Talle boekbekendstellings en ander gebeure deur die loop van die jaar kenmerk dié mylpaal, sê Wyno Simes, kurator.

Die viering bereik ’n hoogtepunt in Maart met die feesrede, bekendstelling van die Volksblad-redakteurs­kamer en ’n inligtingsessie oor die historiese gebou en Naln se geskiedenis.

  • Prof. Bernard Odendaal, oudhoof van die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit (NWU) in Potchefstroom, lewer die feesrede op Donderdag 9 Maart om 18:00.
  • Die bekendstelling van die Volksblad-redakteurskamer is op Vrydag 10 Maart om 18:00.
  • Leana Lategan, voormalige hoof-vakkundige beampte van Naln, praat op Saterdag 11 Maart om 10:00 oor die geskiedenis van Naln.

Kobus du Preez, ’n dosent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement argitektuur, sal praat oor die geskiedenis van die gebou wat in 1877 voltooi is.

As die Ou Goewermentsgebou was dit die regeringsetel van die ou Vrystaatse Republiek en het die Vrystaatse Volksraad aanvanklik in die Derde Raadsaal hier vergader.

As sentrale argief vir materiaal en inligting oor die omvangryke geskiedenis en ontwikkeling van letterkunde, musiek en drama in Afrikaans is Naln ’n skatkamer vol kleinode.

Dit is ook die bewaarplek van die werk van Afrikaanse skrywers. Naln is in 1973 deur die Vrystaatse provinsiale regering gestig.

Die Vriende van Naln, wat ’n onontbeerlike bydrae lewer, help ook die feesvierings moontlik maak.

Netwerk24 help met die bekendstelling van die redak­teurskamer, wat voorverlede jaar van die ou Volksblad-gebou hierheen geskuif en verlede jaar ingerig is.

  • Op 16 Maart sal prof. Jerzy Koch van Pole sy digbundel Polkadraaiby Naln bekend stel.
  • Op 11 Mei word ’n gesprek met die Hertzogpryswenner Johan Myburgh oor sy bundel Narreskipgevoer.

Die geleenthede kan gratis bygewoon word.

Bevestig bywoning vooraf deur ’n e-pos aan Annelien Diedericks by annelien.naln@gmail.com te stuur, ter wille van praktiese reëlings.

You need to be Logged In to leave a comment.