Naoorlogse stryd in vrouestem beskryf

Daar is al baie oor die Grensoorlog, oftewel die Bosoorlog, geskryf – maar die fokus was deur die jare op mans en hul belewenisse.


Daar is al baie oor die Grensoorlog, oftewel die Bosoorlog, geskryf – maar die fokus was deur die jare op mans en hul belewenisse.

Klankgrens

– ’n oorlog teen geloof en hoop deur Bloemfonteinse skrywer Maretha Maartens en Magda Slabbert is op 20 April by die Nasionale Afrikaanse Letter­kundige Museum en Navorsing­sentrum (Naln) bekend gestel.

Leana Lategan, afgetrede vakkundige beampte van Naln, het met hulle oor dié besonderse roman gesels.

Magda sê sy het jare met ’n gedagte in haar kop geloop dat die verhaal vertel moet word van hulle wat by die huis (by Tempe) moes agterbly – die vroue en kinders wie se mans en pa’s uit die bos teruggekom het en nooit weer dieselfde was nie.

Die Bosoorlog, wat van 1966 tot 1989 op die grens tussen die destydse Suidwes-Afrika en Angola gewoed het, het ’n onherroeplike uitwerking gehad op almal wat iemand geken het wat daar gaan veg het.

Magda vertel ’n vriend het by hulle gekuier en gesels oor die kere dat die mans teruggekeer het huis toe.

“Hy het ’n oomblik beskryf van hoe die Flossie land en sy dogtertjie vir hom wag, en ek het geweet die oomblik het aangebreek om werk van my idee te maak.”

Sy het Maretha gekontak en dié twee het dadelik by mekaar aanklank gevind.

“Dit is geensins ’n outobiografiese verhaal nie, maar dit skep ’n prentjie van mense uit daardie tydperk se belewenisse,” sê Maretha oor die boek.

“Feite is met fiksie verweef. Ek het talle fiktiewe karakters geskep om ’n spesifieke deel van die storie te vertel.”


Klankgrens
handel oor Jo, wat met ’n beroepsoldaat getroud is. Hy keer van die Grensoorlog terug met posttraumatiese stresversteuring. Jo gee in die roman ’n stem aan duisende vroue wat met die angs en pyn moes saamleef nadat mans van dié oorlog teruggekeer en die emosionele oorlog wat daarna tuis gevoer is.

“Ek het dikwels getwyfel of ek regtig ’n storie beet het,” sê Magda.

“Die talle vroue wat in dié situasie was en die boek gelees het, het my egter oortuig dat dit ’n verhaal is wat vertel moes word.”

Sy sê wat mense nie besef nie, is dat die oorlog lank ná die oorlogsgebeure in die gesin voortwoed.

“Dit word versterk deur die sterk band wat daar in weermagkringe is met dié manne van verskillende eenhede wat gereeld saamkom en kuier.”

Magda se man, Rufus, het onlangs as AO1 by 1SDB by Tempe afgetree.

“Hy het my baie in die projek ondersteun,” sê sy.

Hy het ook gehelp dat die karakters in die roman “soldatetaal” praat.

Magda sê hoewel genesing ’n proses is, het die boek vir haar heling gebring.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.