Die Mangaung-metro is Donderdag (06/04) onder nasionale administrasie geplaas.

Argief

Die DA verwelkom die kabinet se besluit vandag (Donderdag) dat die Mangaung-metro onder nasionale administrasie geplaas word.

“Die besluit sal egter eers amptelik wees wanneer dit in die staatskoerant gepubliseer is,” sê Johan Pretorius, koukusvoorsitter van die DA in Mangaung.

Tot dan geld die bestaande intervensie waarvolgens die metro onder provinsiale administrasie is.

Minister Mondli Gungubele, minister van die presidensie, het vroeër vandag aangekondig dat die kabinet afdeling 139 (7) van die Suid-Afrikaanse Grondwet van 1996 in werking laat tree wat saam met seksie 150 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur van 2003 in die Mangaung-metro sal geld.

“Hierdie munisipaliteit ondervind ernstige finansiële bestuur- en diensleweringprobleme vir ‘n langdurige tydperk en die kabinet het die besluit geneem om in te gryp.”

Ook die Enogh Mgijima-plaaslike munisipaliteit in die Oos-Kaap is vandag onder nasionale ingryping geplaas.

Die uitvoerende komitee van die Vrystaatse wetgewer het die metro in Desember 2019 onder administrasie geplaas.

‘n Verpligte finansiële herstelplan is in 2020 op die munisipaliteit afgedwing.

“Nadat die metro vir twee jaar nie die finansiële herstelplan toegepas het nie, is besluit op nasionale ingryping,” sê Gungubele.

Pretorius sê die DA sal vra vir ‘n onafhanklike forensiese oudit van bekwaamhede om te bepaal wie verantwoordelik is vir die ondergang van die metro.

“Ons sal vra dat hierdie inligting gepubliseer word sodat die publiek kan sien wie verantwoordbaar gehou moet word.”

Die munisipale raad bly aan in sy rol en sal onder meer die begroting wat nou voorgelê is en deur die nasionale span aangepas kan word, moet bekragtig.

Die ingrypingsplan sal vir 12 maande geld en indien daar nie verbetering is nie, is dit moontlik dat die raad kan ontbind en ‘n herverkiesing in die metro sal moet plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.