Dit was onlangs die eerste keer dat twee streekverenigings binne die Nasionale Sierduifvereniging saamgewerk het om ’n nasionale skou in ’n ander streek aan te bied.
Chris de Bruin, nasionale voorsitter van die vereniging, sê die Noord-van-die-Vaal- en Wes-Transvaal-streek het besluit om kragte saam te snoer en die 74ste nasionale sierduifskou in Bloemfontein aan te bied.
“Dit het beslis goed gewerk om die skou sentraal te hou,” meen De Bruin.
“Verlede jaar is 662 duiwe ten toon gestel, terwyl ons vanjaar 1 347 duiwe op die skou gehad het.
“Dit is meer as dubbeld soveel,” verduidelik hy.
Daar was ook vanjaar 72 vertoners van tien streke in Suid-Afrika, teenoor verlede jaar se 33 vertoners.
In die senior afdeling was daar op vanjaar se skou 74 duifrasse, met 14 duifrasse in die junior afdeling.
Belangstellendes kon op 29 en 30 Junie na die duiwe gaan kyk waar hulle vir hul deelname aan die skou op die Bloemfonteinse skouterrein gehuisves is.