Nataniël vaar Bfn in

In Nataniël se bootjie in sy jongste vertoning, Six in a Boat, is miskien net plek vir die ses musikante op die verhoog, maar gelukkig vaar dié boot op ’n see van stories.


In Nataniël se bootjie in sy jongste vertoning, Six in a Boat, is miskien net plek vir die ses musikante op die verhoog, maar gelukkig vaar dié boot op ’n see van stories.

Dit is hoe Nataniël Bloemfontein binnekort vir ’n vertoning in die Sand du Plessis-teater gaan binnevaar.

Hy vertel waarom hy ’n boot as “vervoermiddel” vir die produksie gekies het en wat vir hom die grootste genot verskaf wanneer hy ’n nuwe produksie skep.

“ ’n Boot is een van die oudste vorme van vervoer. Dink aan vissermanne en die dissipels en aan mense wat deesdae hul lewe waag om op bootjies na ’n beter lewe te vlug.

“Dit alleen bied stof vir ’n eindelose aantal stories.”

Nataniël sê dit is al 27 jaar sy werk om stories uit te dink, waarvan die temas en die situasies die minste van sy probleme is.

“Dit verskyn dag en nag in my kop, maar dan moet ek ’n begin en einde uitdink, en dís die harde werk.

“Ek vind skryfwerk veeleisend en selfs senutergend, ook om fisiek aan die gang te kom. Ek sien dikwels daarteen op, die gaan sit voor die rekenaar. Maar die idees is altyd daar en dit maak my steeds opgewonde. Ook die beplanning van die kostuums is heerlik.

“Elke oomblik van die skryf van musiek verskaf my ook groot genot. Ek sit soms ure lank voor die klavier en sing totdat ek hees is, ek raak nooit moeg daarvoor nie.

“Repetisies is ook opwindend. Dis wanneer ek begin agterkom of ’n vertoning werk of nie en hoeveel verandering nodig is.

“Anders as ’n verhoog­vertoning vind repetisies in beskermde omstandighede plaas. Dit is dié deel van ’n produksie waarby die minste spanning betrokke is.”

Die ses mense in Nataniël se bootjie is Charl du Plessis (klavier), Werner Spies (bas), Peter Auret (perkussie), die agtergrondsangers Dihan Slabbert en Nicolaas Swart, en die skipper, Nataniël.

Soos altyd is die kostuums die produk van Floris Louw en Nataniël se kreatiewe vermoëns.

En soos die publiek teen dié tyd al weet, sal Nataniël weer die gehoor aangryp met sy Engelse en Afrikaanse stories vol patos, humor, vreemde karakters en onverwagse kinkels.

Dit is alles nuwe stories, ja, want sy see rol stories uit soos die branders wat die diepblou see onophoudelik op ons strande uitrol.

Nataniël het tot vlak voor Kersfees nog opgetree en daarmee saam sy Blikkiesfeesprojek bekend gestel. Hy het die publiek aangemoedig om minstens een blikkie kos te skenk om minderbevoorregtes in die Kerstyd te voed. Hy het self reëlings getref om te verseker dat die blikkies versprei word aan mense en instellings wat dit werklik nodig het.

Hy sê dit was ’n groot, groot sukses en sal beslis uitgebrei word en van nou af elke jaar plaasvind. Derduisende blikkies is ingesamel en baie families is gehelp.

“Ek is oorweldig deur die ondersteuning, reusagtige bydraes in sekere gevalle, en in hoe ’n mate mense bereid is om te help.”

  • Six in a Boat word op Woensdag 22 Februarie om 19:00 in die Sand du Plessis-teater vertoon. Die kaartjies kos R190, R240 en R290 en is by webtickets.co.za beskikbaar. Geen kinders jonger as 15 jaar word toegelaat nie.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.