Op ’n oggendstaptog in die hartjie van die Krugerwildtuin is van links Pieter Burger, Anelle Schoeman, Theo Schoeman, Willie Endres, Sonja Endres, Edell Burger, Chrissie Malan en Wynand Malan, saam met die veldgidse Johann Botha en Willie de Beer. Foto: Verskaf


Die Sanparke-ereveldwagters, Sanparke se amptelike vrywilligersorganisasie, is vandeesmaand 60 jaar oud.

Ook die Vrystaat-streek van dié organisasie is bedrywig met projekte om bewaring te bevorder en geld vir die land se nasionale parke in te samel.

Een van die projekte is die aanbied van Vierdag-boskampe in die Sandrivier-boskamp suid van Skukuza in die Krugerwildtuin. Die geld wat daarmee ingesamel word, is byvoorbeeld die afgelope tyd gebruik om spesiale honde te koop wat waardevol is in die stryd teen renosterstropers.

Wimpie Jonker, finansiële adviseur van Bloemfontein en Vrystaatse projekleier van die Sandrivier-boskampprojek, sê die Vrystaat-streek het in 2023 drie opgeleide snuffelhonde gekoop, teen R80 000 per hond, om te help in die stryd teen renosterstropery.

Die Sandrivier-boskamp, 15 km van Skukuza af, is ’n versteekte juweel. Dit is waar die boskampe oor ’n tydperk van vier dae en drie nagte vir gaste aangebied word as deel van die Sanparke-ereveldwagters se geldinsamelingsaktiwiteite, maar ook om bewaring te bevorder deur aan gewone mense uitsonderlike geleenthede te bied om die natuur te ervaar, te geniet en beter te leer ken.

vekdgids

Die veldgids Johann Botha word deur die gaste as bekwaam, kundig en sterk ingestel op veiligheid beskryf.

Hier is geen selfoonopvangs in dié oase waarheen gaste graag terugkeer wanneer hulle moeg en warm, en opgewonde, klaarmaak met ’n oggendstaptog van gewoonlik tussen 7 km en 14 km ver nie. Dié staptogte geskied onder leiding van gewapende gidse. Die gidse is kundig en toegerus om die gaste se veiligheid altyd eerste te stel. Hulle verskaf deurentyd ’n magdom nuwe inligting, volgens Denton Osler, eienaar en besturende direkteur van Denmar, wat reeds 11 keer die boskamp as gas bygewoon het.

Met die groep se terugkeer van hul uitstappie word vrolik gesels, oor die skaars boom of uitsonderlike voël wat gesien of die slang of roofdier wat onverwags te voet van naderby ontmoet is.

Soms kry gaste ook bedags in die kamp of saans om die vuur die geleentheid om besoekers soos wildehonde, nagapies, olifante, njalas, hiënas, leeus en selfs ’n luiperd deur die heining van nader te leer ken.

Die doel van hierdie boskamp is om die natuur op ’n besonderse manier vir gaste oop te breek en hulle ’n nog groter waardering vir die veld te leer. Ook die kleiner detail in die veld word uitgewys, soos die dieremis en boomblare, asook kleiner diertjies soos verkleurmannetjies en insekte. Dit is absoluut ’n ander ervaring as om in ’n motor deur die wildtuin te ry.

Vyf lede van die ereveldwagters tree as kampwerkers op en verseker dat alles skoon en netjies is en dat genoeg eetgoed voorgesit word.

vekdgids

Die veldgids Willie de Beer word deur die gaste as bekwaam, kundig en sterk ingestel op veiligheid beskryf.

Alle geld wat ingesamel word, word baie streng beheer en in die Vrystaat word elke sent wat nie direk aan uitgawes vir die gaste bestee is nie, in die Krugerwildtuin teruggeploeg.

“Vir ons as ereveldwagters is die boskampe een van ons suksesvolste geldinsamelingspogings om ons in staat te stel om ons ondersteuning van Sanparke suksesvol te finansier,” sê Paul Colditz, nasionale voorsitter van die Sanparke-ereveldwagters.

“Dit bly ook vir elke ereveldwagter wat daarby betrokke is ’n groot vreugde om ons liefde vir die natuur en natuurbewaring met ons gaste te deel.”

  • Die skrywer is ’n lid van die Sanparke-ereveldwagters in die Vrystaat-streek.

You need to be Logged In to leave a comment.