Naval Hill gaan Donderdag (09/03) vir die publiek gesluit wees wanneer blouwildebeeste en sebras gevang en hervestig gaan word.
Andri Grobbelaar, voorsitter van die Vriende van Franklin, sê dit is baie goed dat van die grasvreters uit die reservaat verwyder gaan word, want daar is ’n probleem met oorbeweiding en die gras kry nie kans om te groei nie.
Grobbelaar is ’n lektor en navorser verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement dierkunde en entomologie.
“Ek het lankal voorgestel dat van die grassvreters elders hervestig moet word,” sê Grobbelaar.
Naval Hill was tradisioneel meer grasveld as die bosgebied soos wat dit vandag is. Sy sê daar kort meer blaarvreters op die berg en planne is steeds in plek om nog twee kameelperde binnekort hier te vestig.
Rhulani Shibambu, hoof van natuurbewaring in die Mangaung-metro, het bevestig dat 33 blouwildebeeste en 10 sebras Donderdag gevang en uit die reservaat verwyder gaan word.
“Dit is eerstens om die getalle in die reservaat te verminder, maar ook om ’n skuldeiser te betaal wat jare gelede wild aan die Mangaung-metro verkoop het,” het hy gesê.
Shibambu sê nadat die wild Donderdag verwyder is, sal daar 14 blouwildebeeste en ongeveer 10 sebras in die reservaat oor wees.