Daar is groot ontsteltenis onder inwoners van Bloemfontein nadat die Mangaung-metro ‘n kennisgewing uitgereik het van sy voorneme om 14 bates te verkoop of te verhuur.
Een van hierdie eiendomme is Naval Hill in die middel van die stad, wat die Franklin-natuurreservaat huisves. Die reservaat is een van net drie reservate oor die wêreld heen wat binne ‘n stad geleë is.
Naval Hill is enig in sy soort, ‘n plek van ontspanning en opvoedkunde, en bevat ook geskiedkundige en kultuurbelaaide elemente. Daar is byvoorbeeld ‘n figuur van ‘n wit perd aan die oostelike kant van die berg wat sedert die Anglo-Boereoorlog as ‘n oriëntasiepunt dien.

Volgens die burgerregteorganisasie AfriForum is die openbaredeelnameproses rakende die voorneme om van eiendomme ontslae te raak gebrekkig, ondeursigtig en in stryd met die vereistes vir behoorlike openbare deelname.
Andri Grobbelaar, stigter van die Vriende van Franklin, sê hulle sien net in die media van hierdie voorneme en daar was nog geen gesprekke met hulle nie. Vriende van Franklin het die afgelope paar jaar reuse-werk gedoen om na die diere in die reservaat om te sien.
Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein, sê hulle het al talle pogings aangewend om meer inligting te kry oor die beplande transaksie, maar die metro het nog geen terugvoering gelewer nie.
“Hierdie gebrek aan terugvoering maak dit byna onmoontlik vir die publiek om sinvol aan die konsultasieproses deel te neem,” sê Groenewald.
“Wanneer die munisipaliteit nalaat om basiese inligting te verskaf of om op navrae te reageer, word die beginsels van deursigtigheid en billikheid ondermyn. Dit bring nie net die wetlikheid van die proses in gedrang nie, maar dui ook op ’n ernstige tekort aan verantwoordbaarheid.”
DA-raadslid Tjaart van der Walt sê hulle is bekommerd oor die advertensie wat vra dat kommentaar gelewer moet word oor die verkoop van munisipale eiendom, sonder die goedkeuring van die Metroraad of behoorlike waardasieverslae soos voorgeskryf deur wetgewing.
Groenewald sê AfriForum moet as ‘n belanghebbende en geraakte party in die proses geregistreer word en dat alle toekomstige korrespondensie aan die betrokke AfriForum-verteenwoordigers gestuur moet word.
AfriForum se brief van beswaar, wat op 23 Oktober gerig is aan Sello More, munisipale bestuurder van die Mangaung-metro, herinner die munisipaliteit aan sy grondwetlike plig om openlikheid, wettigheid en verantwoordbaarheid in openbare administrasie te handhaaf.
Groenewald sê die organisasie kon tot dusver slegs die kennisgewing oor die beoogde verkoop of verhuring op die munisipaliteit se sosialemediaprofiele, soos op die platforms Facebook en Instagram, sien. Dit is kommerwekkend dat amptelike kennisgewings moeilik bekombaar is op die metro se webwerf, wat die proses van openbare deelname verder bemoeilik.
Groenewald het bevestig dat die organisasie die situasie noukeurig sal moniteer en verdere stappe sal oorweeg indien die munisipaliteit nie bevredigend op die beswaar reageer nie.



You must be logged in to post a comment.