Vroue bestuur volgens navorsing beter as mans.

Unsplash

As jy nog altyd gedink het vroue is beter bestuurders as mans, dan het Netstar nou vir jou bevestigde bewyse.

Navorsing wat gedoen is met behulp van telematika, het insigte gegee van hoe hul klante bestuur.

Data word bereken volgens insidente van voertuie wat in ongelukke betrokke is, bestuurders wat hard rem trap, vinnig versnel en vinnig om draaie ry as ’n persentasie van die totale vroulike en manlike klante.

Geregistreerde voorvalle van impak waar die motor byvoorbeeld deur ’n slaggat ry, teen ’n sypaadjie of teen ’n ander voertuig gebots het, was 1,3% van die totale hoeveelheid vroue bestuurders oor ’n bepaalde tydperk, terwyl dit vir mans in die tydperk 1,4% was.

Vroue wat hard rem getrap het, is geregistreer vir 16,9% van vroulike bestuurders terwyl dit vir mans 22,8% was.

Wat vinnige versnelling betref, het 4,5% van vroulike bestuurders té vinnig weggetrek terwyl 22,8% van mans dit gedoen het. Mans het 18.8% vinniger om ’n draai gegaan as die 13,2% van vroulike bestuurders van die groter groep.

Volgens Cliff de Wit, Netstar se hooftegnologiebeampte, dui die data daarop dat vroulike bestuurders oor die tydperk van vier maande waartydens die opname gedoen is, beter as mans bestuur het.

Hy verduidelik die telematika wat Netstar gebruik is ’n kombinasie van die globale posisioneringstelsel, sensors van voertuie en telekommunikasietegnologie. Die data verskaf direkte, onmiddellike inligtinging om versekeraars te help om hul klante se bestuursgedrag te verstaan, wat hulle in staat stel om relevante premiums op te stel en veilige en volhoubare bestuursvernuf aan te moedig met insentiewe.

De Wit sê Netstar ondersteun ’n onlangse verslag van padsterftes in die Verenigde Koninkryk. In die navorsing wat in Injury Prevention, ’n publikasie van die Vereniging vir die Bevordering van Navorsing oor Geweld en Beserings (Savir) verskyn, is bevind dat daar groot geslagsongelykheid is as dit kom by bestuursvernuf en die risiko wat manlike bestuurders skep.

Dié data het bevind daar is meer sterftes per miljard kilometer gereis by mans as by vroue. Dit was waar vir alle voertuigtipes, van motors, bussies, vragmotors, motorfietse, busse tot fietse.

“Ons moedig alle bestuurders, mans én vroue, aan om versigtig en veilig te bestuur en om die telematika-data te gebruik om hul bestuursvernuf te verbeter en so lewens te beskerm,” sê De Wit.

You need to be Logged In to leave a comment.