Net Een kan Suid-Afrika red

Ek sien die beurtkraggrappe wat op WhatsApp versprei word: “Nog net 16 dae tot beurtkrag weer begin.” Met ’n glimlag-ikoon daarby. Dis een ding wat ons land se burgers goed kan doen: die slegste van situasies met komedie verwerk. Die aaneenlopende kr


Ek sien die beurtkraggrappe wat op WhatsApp versprei word: “Nog net 16 dae tot beurtkrag weer begin.” Met ’n glimlag-ikoon daarby. Dis een ding wat ons land se burgers goed kan doen: die slegste van situasies met komedie verwerk. Die aaneenlopende kragvoorsiening is werklik salig, want ek kan enige dag van die week my hare was en weet daar sal krag wees om my weerbarstige boskasie droog te kry.

Ek ry soggens met Totius-straat langs werk toe. Die party-verteenwoordigers skree van elke lamppaal en beskikbare boom af. Krete van vryheid en gelykheid. Geld en werk en oorvloed vir Suid-Afrika se mense. Die een verkondig luidkeels: “As jy SA wil red, stem vir ons.” Ek grinnik en dink: Ja reg, niemand kan Suid-Afrika meer red nie. Die weegskaal het eenkant toe getuimel en nie Elon Musk of Amerika of die pous gaan ons uit hierdie geldelike verknorsing kan red nie.

Soos ek deur die Langenhovenpark-verkeer koers kry kantoor toe, besef ek net Één persoon kan ons red. Hy het tweeduisend jaar terug reeds vir diens aangemeld. Het ons dan so vinnig vergeet?

Ek sien die verstarde gesigte in die rye motors wat veldlangs uitkronkel na Universitas en elders in Bloem. Bekommerde ouers en kinders. Werkende jongmense wat een-een voortsleep na hul werkplekke. ’n Bedrukte gemoedstoestand hang soos ’n swaar jas om elkeen se skouers.

Ek bevraagteken ook my eie geloof en vertroue in Jesus. Kan Hy werklik ’n verskil maak? Ek het in die afgelope drie maande twee keer verhuis. Darem net van een buurt na ’n ander in ons mooi Rosestad. Trek is geen mens se speelmaat nie. Ek voel gedreineer van krag, moed en lewenslus. Die gepak en uitpak, herrangskik, gordyne hang en leë bokse wegry doen iets onwel aan ’n mens se gemoed. Met die druk van werk en ’n algehele sielsmoegheid wat my kom plattrek, wil ek opgee. Ek is moeg vir die lewe, mense se dinge, ag sommer vir alles.

In die oggendverkeer besef ek mense het Jesus nou meer nodig as óóit tevore, maar hulle hardloop weg van hom af. Hulle is bang, skaam en voel aangekla. As hulle tog weet, dat Hy gekom het vir die siekes en die gebrokenes. Diegene wat volgens die samelewing nie ‘goed genoeg’ is nie. Hy het nie gekom vir dié wat glo hulle self sal regkom nie. Nee, Jesus se Gees is hier vir die eensame, uitgemergelde en finansieel platgeslane siele, soos ek en jy.

Wanneer ek uiteindelik stil word, fluister Heilige Gees sag in my oor: “Haal diep asem. Raak kalm. Kom rus by My.” Ek doen dit ook. My bekommernis oor werk, familie en die lewe vervaag. In die stilsaligheid van die oomblik weet ek, Jesus ís in beheer. Hy sál sy kinders in Suid-Afrika red. Al wat ons moet doen, is na Hom toe gaan. Hy wag met arms wyd oopgesprei vir sy kroos.

You need to be Logged In to leave a comment.