Met tuinvurk en graaf het inwoners Saterdag (22/01) opgedaag om die openbare ruimtes in Brandwag skoon te maak.
Ná die milde reën het onkruid veral ruig gegroei in die openbare ruimte waar Nettletonstraat in Dan Pienaarrylaan inloop.
Plante wat tot teenaan Bloemspruit gegroei het, het nie net onnet gelyk nie, maar ook skuilplek vir kwaaddoeners en inbrekers gebied.
Tekens van bosslapers is selfs tussen die lang grasse gevind.
Johan Pretorius, fotograaf van die stad, het juis deurgeloop toe iemand in die feestyd by sy huis in Nettletonstraat – ’n klipgooi van die openbare ruimte af – probeer inbreek.
“Gelukkig kon ek die oortreder verjaag voordat hy enigiets kon steel.”
Pretorius reken die inbreker het deur Bloemspruit se tonnels, wat reg agter sy huis is, gekom.
Ten tyde van die voorval was Pretorius op vakansie.
“Ek was by die see en wou sommer loer of dit in Bloemfontein reën.”
Hy het met die toepassing op sy foon toegang tot sy huis se kringtelevisiekameras verkry en gesien hoe iemand by sy huis probeer inbreek.
Pretorius sê hy het dadelik die noodknoppie op sy foon probeer druk, maar kon dit nie regkry nie.
“Ek maak toe ’n plan en praat deur die kameras se mikrofoon met die inbreker en vra hom wat hy daar maak. Hy het op vlug geslaan.”
Die groot flits wat die inbreker by hom gehad het, het Pretorius laat dink dat hy deur die Bloemspruit-tonnels beweeg het.
Inwoners van verskeie woonbuurte in die stad het las van die toegangsroetes wat Bloemspruit aan booswigte bied.
Hulle breek by huise in en vlug dan deur die tonnels wat by plekke onder die stad deurloop.
Terug by die huis het Pretorius gesien heelwat skade is aangerig waar die inbreker deur die dak toegang tot die huis probeer verkry het.
Hy het die plantegroei in die spruit agter sy huis laat verwyder, en draad laat span om booswigte uit te hou.
Intussen het die Vriende van Brandwag besluit om iets aan die kwessie te doen, en inwoners, skole en plaaslike ondernemings genooi om Saterdag aan ’n skoonmaakprojek deel te neem.
Die Laerskool Brandwag het van sy randsnyers en personeel beskikbaar gestel om met die opruiming te help.
Dawn Shawe, jare lank ’n inwoner van Brandwag, sê dit is jammer dat die buurt so verval het. Sy was een van die groep vrywilligers wat aan die skoonmaakprojek deelgeneem het.
Ondernemings soos die Famous Brew & Still en Angel Hearts het ook al betrokke geraak om Brandwag netjies te hou.
Personeel van die restaurant het juis Saterdag slaggate in Leviseurstraat opgevul.
Nadat die ergste onkruid in Nettletonstraat verwyder is, is die inwoners na Hiemstrastraat om ook daar skoon te maak.
Werner Pretorius, wyk 20 se raadslid, het ook gehelp.
Hy sê dit is wonderlik dat die gemeenskap so saamwerk.
“Mense moet op hul woonbuurt trots wees.”
Hy sê Brandwag is ’n brandpunt vir misdaad, maar die polisie en gemeenskapspolisiëringsforum werk goed saam om misdaad te bekamp.
Mense moet trots wees op hul woonbuurte.
– Werner Pretorius