’n Verteenwoordiger van die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het Bloemfontein Donderdag (25/08) besoek om ’n nuutgestigte nasionale netwerk bekend te stel.
Dié organisasie is bekend vir die groot werk wat hy doen om onder meer die e-tolstelsel in Gauteng tot niet te maak.
Julius Kleynhans van Outa sê die Gemeenskapaksie-netwerk (Can) is ’n aanlyn platform by can.org.za waarby woonbuurtverenigings en ander belangegroepe hulle kan aansluit om met inligting en kennis bemagtig te word.
“Ons as gemeenskappe moet slimmer werk om meer mense te betrek. Hierdie platform bied ondersteuning aan woonbuurtverenigings met kennis en hulpmiddels soos die uitstuur van nuusbriewe, massa-e-posse en SMS’e,” sê Kleynhans.
Hy sê lede het ook toegang tot belangrike wetgewing en inligting oor hofgedinge.
Can is ’n niewinsgewende platform wat ’n klein deel van elke lid van ’n woonbuurtvereniging se ledegeld gebruik om die netwerk te onderhou.
“Die grootste deel van lidmaatskapgeld gaan steeds vir die werk wat die vereniging in sy gemeenskap doen.”
Kleynhans sê daar is reeds sewe gemeenskapsgroepe op Can en sowat 62 is in die proses om te registreer.
Benewens die netwerk het Outa ook ’n toepassing genaamd Link, wat gemeenskappe met munisipaliteite se administrasie verbind. Die stad Kaapstad en munisipaliteite soos Kouga en Modimolle maak reeds daarvan gebruik, en Swellendam gaan in September begin. Johannesburg en Tswane ondersoek dit ook.
Kleynhans sê die gemeenskap, asook raadslede, kan kwessies in hul omgewing, byvoorbeeld ’n slaggat, op dié toepassing aanmeld.
“Dit skakel ’n oproepsentrum uit en maak kommunikasie uit die gemeenskap met die munisipaliteit baie effektief.”
Hy sê mense moet besef dat dit nie net die munisipaliteit se verantwoordelikheid is om seker te maak dat ’n munisipaliteit se werking vlot nie.
“Die gemeenskappe moet die kennis hê om insette te lewer. Dit kan ’n wen-wen-situasie in talle munisipaliteite skep.”
Wayne Duvenhage, uitvoerende hoof van Outa, het kontak gemaak met dr. Arno van Niekerk, ’n lektor in ekonomiese en bestuurswetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), om ’n vergadering met leiers in die gemeenskap te hou.
“Ons gaan einde September of begin Oktober weer ’n vergadering met Outa hou en hoop om talle woonbuurtverenigings byeen te bring,” sê Van Niekerk.
Rig navrae aan Van Niekerk by 084-208-6211.