Netwerkgroep se bydrae steun talle

Die plaaslike netwerkgroep Dinamiese Netwerk Bemarking (DNB) vier in Januarie sy tiende verjaardag.


Die plaaslike netwerkgroep Dinamiese Netwerk Bemarking (DNB) vier in Januarie sy tiende verjaardag.

Lillian Zaaiman, besturende direkteur, sê die groep bied ’n platform aan lede om mekaar se ondernemings deur direkte verwysings te bevorder.

DNB organiseer verskeie geldinsamelingsprojekte, waarvan die DNB-gholfdag elke jaar ’n hoogtepunt is. Organisasies soos CANSA, die Siësta-aftreeoord, Athalia-huise en die Gee-projek van Radio Rosestad is van die begunstigdes.

Op 24 Oktober het Zaaiman namens DNB ’n tjek van R60 000 aan Kobus Venter van Solidariteit Helpende Hand oorhandig. Die skenking is vir Helpende Hand se Kosblikkie-projek en die DNB Studiefonds. Laasgenoemde is in 2022 begin om dit moontlik te maak vir jongmense met potensiaal om te studeer. Die rentevrye studieleningsfonds word deur Helpende Hand bestuur. Vanjaar se studielening is goedgekeur vir ’n student wat LLB studeer.

Zaaiman verduidelik die kern van DNB lê in die bou van netwerke van plaaslike ondernemings met dieselfde waardes wat mekaar se behoeftes verstaan.

“Ons streef daarna om plaaslike ondernemings saam te snoer in ’n ketting van ondersteuning en die skep van uitsonderlike vriendskappe onder die klein ondernemings in Bloemfontein,” verduidelik sy.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.