Nita vier weer ’n titel-oorwinning in pluimbal op Afrika-spele

Bloemfontein se pluimbalkampioen het gisteraand ’n tweede keer in haar loopbaan die enkelspeltitel in die vroue-afdeling op die Afrika-spele verower.


Bloemfontein se pluimbalkampioen het gisteraand ’n tweede keer in haar loopbaan die enkelspeltitel in die vroue-afdeling op die Afrika-spele verower.

Nita Scholtz-Albertse het met ’n reuse-terugvegpoging die eindstryd gehaal in dié spele in Accra, Ghana, waar sportlui in verskillende sportsoorte meeding om die topplekke in Afrika en ’n kans om in die Olimpiese Spele mee te ding.

Die spele het op Vrydag 8 Maart amptelik begin, maar die pluimbalspelers het dit van Donderdag tot Sondag om plekke in dié sportsoort uitgespook.

Die Afrika-spele word slegs een keer elke vier jaar aangebied.

As 19-jarige speler op die Afrika-spele in 2019, in Marokko, het Scholtz-Albertse haar eerste groot internasionale titel verower.

Weens verskeie redes is die spele nie in 2023 aangebied nie, en na 2024 geskuif – wat die invloed daarvan verhoog het, want die Olimpiese kwalifiseringstydperk eindig op 28 April.

Johan Kleingeld, een van Scholtz-Albertse se plaaslike afrigters, sê dit was ’n groot oomblik wat baie innerlike krag van haar geverg het toe sy Husina Kobogabe van Uganda in die eindstryd gepak het.

Sy het die toernooi goed begin en spelers van Uganda, Ghana en Benin uit die pad gevee sonder om ’n stel af te staan.

In die halfeindstryd het Fadilah Rafi van Uganda op haar gewag. Rafi was nog voor Scholtz-Albertse op die kwalifiseringspuntelys en die wedstryd was van kardinale belang, want die wenner sou nie net die voortou neem op die puntelys nie; die verloorder sou vir alle praktiese doeleindes uitgeskakel word wat die kwalifiseringswedloop betref.

Scholtz-Albertse was eenvoudig te goed vir Rafi en het met 21-15, 21-10 geseëvier.

Kobogabe het in haar aanloop verrassing ná verrassing gelewer en deur die loting gekom. In die proses het sy twee vorige Olimpiese spelers uitgestof om die eindstryd in die vroue-enkelspel te haal.

Kobogabe het eers in die kwart-eindstryd vir Kate Ludik van Mauritius geklop, in drie stelle, en toe in die halfeindstryd vir Dorcas Adesokan van Nigerië in twee gemaklike stelle.

Kleingeld sê die eindstryd was van hoë gehalte en nie een speler kon oorheers nie, maar Kobogabe het baie beter gespeel as wat sy vantevore het en het in die finale stel ’n voorsprong opgebou van 19-14. Sy was slegs twee punte weg van die Afrika-titel en op pad om Scholtz-Albertse se drome aan skerwe te laat spat.

Dié het eenvoudig die stang stywer vasgebyt en geweier om die stryd gewonne te gee. Sy het van 14-19 teruggeveg en die volgende 7 punte in ’n ry gewen om die Afrika-titel met 16-21, 21-17, 21-19 te verower.

Met die titel is sy nie slegs die enigste Suid-Afrikaanse vrou wat in die Afrika-spele se enkelspel kon seëvier nie; naas Grace Daniel van Nigerië (2003 en 2007) is sy ook die enigste speler in die vroue-enkelspel wat dit twee keer kon wen.

Om seker te maak dat sy vir die Olimpiese Spele kwalifiseer, wag daar op Scholtz-Albertse nog twee toernooie: in Pole en Kazakstan, onderskeidelik in Maart en April.

Scholtz-Albertse het ook ’n bronsmedalje in die gemengde dubbelspel saam met Caden Kakora gewen. Kakora is ook ’n enkelspel-spesialis en het in die kwarteindstryd verloor om ’n bronsmedalje te wen.

Die enigste ander medalje wat Suid-Afrika in pluimbal op dié spele kon wen, was dié van nog ’n Bloemfonteiner, Robert Summers, wat saam met sy dubbelspelmaat Jarred Elliot van Gauteng brons in die mans-dubbelspel kon verower.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.