NK bied seevakansie sonder gelyke

Heelwat Suid-Afrikaners weet nie dat die Noord-Kaap ’n “see” het nie, nog minder dat dié kuslyn ’n ongeslypte diamant is.


Heelwat Suid-Afrikaners weet nie dat die Noord-Kaap ’n “see” het nie, nog minder dat dié kuslyn ’n ongeslypte diamant is.

Moenie die Noord-Kaapse kuslyn van ongeveer 300 km op sy baadjie takseer nie – nie op sy koue seewater, verafgeleë stranddorpies, sy besadigde plantegroei of die grondpad of drie wat jy gaan teëkom nie.

Wat jy daar sal kry – benewens sonsondergange oor die see – is ruimte, rustigheid, tydloosheid en waarskynlik jouself.

Jy sal ongerepte strande “ontdek”, rotsagtige gebiede waarteen die see skuimend breek, mense wat uitvra én luister, argitektuur sonder aanstellerigheid en ’n ryke geskiedenis.

Parallel aan die N7-roete begin dié kuslyn in die omgewing van Lepelsfontein en strek noord tot by Alexanderbaai teen die Namibië-grens. Hondeklipbaai, Kleinzee (ook Kleinsee), Port Nolloth, asook Alexanderbaai is die dorpies langs dié kuslyn. McDougallsbaai, deel van Port Nolloth, is die gewildste by die deursnee seevakansieganger, en die besigste.

‘Muile lag hardop van blydskap’

Dié kuslyn se skatte met ’n geldwaarde – koper, diamante, perlemoen, kreef en vetplant­spesies – is deurweef met ryke geskiedenis wat oor baie dekades tot rykdom, armoede, konflik en misdaad gelei het.

Die eerste kopermyners in die gebied was die Khoi, wat so vroeg soos 1681 goeie kopermonsters aan goewerneur Simon van der Stel in die Kaap getoon het. Van der Stel het in 1685 op ’n ekspedisie vertrek om die “koperberge” te soek. Koper is op verskeie plekke in die Namakwalandse binneland gevind, onder meer by Okiep en Nababeep.

So skryf T.V. Bulpin (1918-1999) in Discovering Southern Africa (1970).

Daar was egter nie ’n manier om die kopererts op ’n ekonomiese wyse na die Kaap, meer as 600 km ver, te vervoer nie en vir byna 200 jaar is hierdie “ontdekking” nie verder ontgin nie. In die 1850’s was daar ’n kortstondige koperstormloop, maar fortuinsoekers het gou gewyk met die besef dat die koper nie “volop en suiwer” rondlê nie, en dat harde werk en kapitaal nodig is.

Die Cape Copper Mining Company was een van die maatskappye wat volhard het, en teen die 1870’s is die O’Okiep-myn as die rykste kopermyn ter wêreld beskou. Teen 1904 is glo reeds een miljoen ton kopererts uit drie myne, Nababeep, O’Okiep en Carolusberg, produseer.

Om die kopererts tot by die hawe in Port Nolloth te vervoer, het mynmaatskappye ’n spoorlyn van 760 mm tussen dié hawedorp, oor Steinkopf na Okiep en Nababeep gebou. Dit is in Januarie 1876 geopen. Weens ’n gebrek aan water langs die spoorlyn kon stoomlokomotiewe eers nie gebruik word nie, en muile is ingespan. Dié muiltreine het kopererts, algemene vrag en passasiers vervoer.

Voer, water en uitgeruste muile is by skofposte langs die roete aangehou. Die tog van 146 km is in twee dae voltooi. Passasiers het die nag in die Klipfontein-hotel aan die bopunt van die Anenouspas deurgebring.

Stoomlokomotiewe is rondom 1886 heeltyds in gebruik geneem nadat watertenks langs die spoorlyn opgerig is. In sy boek Klipfontein bring herinneringe (uitgewer: Steinkopf Bronnesentrum, 2015) skryf J.F. van Wyk: “Dit word vertel dat toedie eerste trein met ’n lokomotief in 1884 aankom, die muile van blydskap hardop gelag het en stert in die lug die veld ingestorm het.”

Die gebruik van die spoorlyn is in 1942 gestaak, en die grootste dele daarvan is teen 1944 gelig, waarna padvervoer gebruik is. Reis ’n mens vandag op die pad tussen Port Nolloth, Steinkopf en Okiep, is enkele oorblyfsels van die spoorlyn sigbaar, asook dit wat eens die Klipfontein-hotel en -stasie was.

Moontlikhede blink ná ontdekkings

“A pretty stretch of beach and calm water with the reef visually inviting to the holidaymaker,” skryf Bulpin oor Port Nolloth, en ook oor die koue Benguela-stroom – 16 °C maksimum, en wisselende weerstoestande.

In 1854 is Robbebaai deur kapt. M.S. Nolloth as die mees praktiese ligging vir ’n hawe opgemeet, en in 1855 is Port Nolloth na hom genoem. Nadat die kopermyne weens die gebruik van vragmotors nie meer dié hawe nodig gehad het nie, het die visbedryf ontstaan, met onder meer drie kreeffabrieke wat op ’n tyd ’n bestaan daar gemaak het.

Die ontdekking van spoeldiamante in 1926 – vanaf Kleinzee tot by Alexanderbaai – het tot Port Nolloth se voortbestaan en die uitbreiding van McDougallsbaai bygedra. Dit was vir baie dekades die enigste vakansiedorp in ’n geen-toegang diamantgebied.

Hondeklipbaai is ook aanvanklik as ’n hawe vir kopererts van die myne rondom Springbok gebruik, van waar die erts per ossewa vervoer is. Weens talle ertsdraende vaartuie wat in die swaar mis in die ontstuimige see gestrand het, of beskadig is, het die Cape Copper Company in die 1870’s ’n spoorlyn tussen Hondeklipbaai en Port Nolloth gebou. ’n Vis-en-kreef­fabriek het ook eens hier gepryk.

Kleinzee, aan die mond van die Buffelsrivier, was dekades lank ’n diamantmyndorp van De Beers, en vir toeriste ontoeganklik.

Die maatskappy het ’n volledige dorp met parke, skole, sportklubs, ontspanningsale, winkels en meer gevestig, en dit het in sy piektyd glo ongeveer 4 000 inwoners gehuisves.

‘Waarom verlang ’n mens dan heeltyd?’

Die toerismefront blom teen dié kusgebied, en stel jy in geskiedenis, mensestories en ’n vakansieruimte weg van die hoofstroom belang, sal jy nie teleurgesteld wees nie.

’n Noord-Kaapse binnelander wat onlangs ’n huis in Kleinzee gekoop het, vertel sy het lank na ’n eiendom met langtermynopsies gesoek.

Sy het wyd gesoek, in verskeie Karoo-dorpe en in talle ander Weskusdorpe.

“In Kleinzee het die gehalte van die huise, huispryse, asook die grootte van die huise en erwe ’n rol gespeel. Kleinzee se rustigheid het my bekoor. As ’n mens die eerste oggend daar wakker word, maak dit nie saak of die wind waai nie, en is die grondpad vergete. Die stadiger tempo en die stilte in die aande, waar ’n mens ’n bietjie kan vergeet van al die gekkigheid in die wêreld . . .”

Sy sê ongeag enkele negatiewe aspekte, soos dele van die grondpad wat sleg kan wees, en die min vars produkte in die algemeen in winkels, was Kleinzee steeds die beste opsie – al is Springbok, die naaste inkopiesentrum, meer as 100 km ver.

“Hier kan ’n mens nie bekostig om vir mekaar kwaad wees nie. Jy weet nooit wanneer jy iemand nodig het om vir jou ’n motorbattery of medisyne vanaf Springbok saam te bring nie,” sê sy.

In die Weg-tydskrif van Junie-Julie 2022 skryf Esma Marnewick in ’n lesersbrief: “Die Kaap met haar berge en wingerde is ’n wonderlike plek om te bly, maar hoekom verlang ’n mens dan heeltyd terug na Hondeklipbaai? Hier’s nie ghrênd Toskaanse strandhuise of byderwetse wafelrestaurante nie. Ook nie ’n vul­stasie, OTM of teerpaaie nie. Dis byna ses maande sedert ek op Hondeklipbaai was. Tog bly die plek in my kop draal . . . veral op dae wat die hamsterwieletjie dreig om te ontspoor. Hoe anders lyk ’n dag nie daar nie? Wapper die tannie in die huis oorkant die Honde­pondokkies se lakens vanoggend in die wind?”

’n Gautengse ouerpaar en hul twee tienerdogters, wat Desember in Hondeklipbaai vakansie gehou het, sê die ongereptheid, rustigheid en min mense was “ontsettend lekker”.

“Dit was net ons vier; nie soos by ander plekke waar die kinders maats kon maak nie. Ons het gehalte gesinstyd gehad, en tyd gekry om mekaar weer te vind,” vertel die ma.

Die Mosselbaai-omgewing was ’n sterk oorweging as vakansie­bestemming, maar toe hoor hulle van vakansiespitstyd aan die suidkus, en dat dit tot twee ure neem om 8 km verder by ’n winkelsentrum uit te kom.

“As Gautengers bestee ons weeksoggende ’n uur tot ’n uur en ’n half werk en skool toe, en in die middae ’n uur terug. Ons het nie hiervoor kans gesien in ons vakansietyd nie.”

Nog ’n pluspunt, vertel sy, is dat Hondeklipbaai juis nie ’n winkel­sentrum het nie. Dit help dat ’n mens beter beplan en op die einde minder geld uitgee.

Jeanene Jessnitz, ’n eiendomsagent en by die toerismegroep Namaqua Coastal Route betrokke, sê die eiendomsmark in Kleinzee is lewendig. Voornemende kopers wissel van jong paartjies met klein kinders tot mense na aan aftrede wat van die rotresies wil wegkom.

Baie werk ook aanlyn vanaf die huis.

Werd om te weet

Pak jou eie voorraad, maar ondersteun die restaurante en winkels. Snuffel rond en vra uit: Jy sal verras word deur unieke winkeltjies, plaaslike kunstenaars en museums.

Moenie aanneem ’n restaurant of winkel gaan oop wees nie. Bel en vind uit.

Vind vooraf uit oor die beste roetes en plekke waar brandstof beskikbaar is.

Die tweede Namakwa Woeskusfees vind op 6 en 7 Oktober buite Kleinzee plaas. Besoek die Facebook-blad Woeskusfees.

Die Namaqua Camino bied staptogte van verskillende afstande aan. Bel Ina Vosloo by 072-219-2452 en Elize Kruger by 083-674-5045.

’n Skeepswraktoer saam met Dudley Wessels (083-305-2569) neem besoekers na verskeie wrakke. Voorafbespreking is noodsaaklik.

Besoek die Kleinzee-museum wat die geskiedenis van die diamant­bedryf, geologie, argeologie, natuur en kultuur uitbeeld.

Buffelsriviermond en die kuslyn bied ’n kombinasie van see- en varswatervoëls.

Heavisides-dolfyne is volop, en walvisse word ook gereeld gesien.

Kleinzee het ’n aktiewe hengel- en golfklub.

Vind nog inligting en besonderhede oor die Noord-Kaapse kuslyn by namaquacoastalroute.co.za.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.