In die gang wat opgeknap is en waar nog kamers vir die Bloemfontein Hospice ingerig is, is van links dr. Daleen van Jaarsveld., sr. Rianca Roux en Hanneke Lubbe. Foto: Lientjie Mentz

‘n Geselligheid is op 3 Junie aangebied om die nuwe toevoegings tot Hospice Bloemfontein se eenheid waar pasiënte opgeneem kan word, bekend te stel.

Dit behels ‘n ontvangsruimte, twee bykomende kamers, ‘n spreekkamer waar pasiënte en hul gesinne ontvang kan word, asook ‘n bykomende verpleegstasie.

Hanneke Lubbe, bestuurder van die hospies, sê ‘n nuwe tuin is ook uitgelê wat toegangklik vir rolstoele is, sodat pasiënte buite kan sit en die natuur in ‘n beskutte binnehof geniet.

Die nuwe ontwikkeling is moontlik gemaak deur skenkings van Koos Raubenheimer, Jo Anne Dean, SmartStones en CityMed.

Lubbe sê daar is nou altesaam agt kamers vir pasiënte, maar die meerderheid pasiënte word steeds by hul huis besoek en versorg.

Op die geselligheid by Hospice Bloemfontein is van links Martie Bloem, Willem Ellis, Sharon de Kock, Stephanie Pretorius, Tanya Scherman en Jaco Spies. Foto: Teboho Setena

“Pasiënte word slegs vir ‘n tydperk van ongeveer twee weke in ons eenheid opgeneem, wanneer simptome moeilik word om by die huis te hanteer, of vir ‘n ruskans vir versorgers by die huis.

“Ons sorg ook vir pasiënte aan die einde van lewe.”

Lubbe verduidelik die hospies fokus op ondersteuning en gespesialiseerde simptoom-beheer, wat dit vir pasiënte moontlik maak om so lank as moontlik goeie lewensgehalte te ervaar.

“Ons het pasiënte wat ons al langer as ‘n jaar versorg – hoofsaaklik by hul huis, en wat net vir kort tye opgeneem word indien dit nodig is om hul simptoom-beheer aan te pas, en dan gaan hulle weer terug huis toe.

“Ons span van opgeleide professionele personeel staan reg om almal te ondersteun.”

Dit sluit in dr. Dalene van Jaarsveld, verpleegkundiges, ‘n berader, asook ‘n arbeids- en fisioterapteut.

Diagnoses wat ‘n pasiënt vir sorg hier kwalifiseer sluit in: gevorderde kanker, eindstadium-orgaanversaking en neurologiese siektes soos motorneuronsiekte.

You need to be Logged In to leave a comment.