Nóg bronsletters van nog ’n geskiedkundige standbeeld gesteel

Terwyl organisasies met geldelike steun help om waardevolle inligting op ’n senotaaf in Bloemfontein te probeer bewaar, was daar nóg vandalisme by ’n bekende monument in die stad.


Terwyl organisasies met geldelike steun help om waardevolle inligting op ’n senotaaf in Bloemfontein te probeer bewaar, was daar nóg vandalisme by ’n bekende monument in die stad.

Die bronsletters “Christiaan Rudolph de Wet” en die jaartal 1854 – 1922 is van die sandsteenbasis van die standbeeld se voetstuk van dié Boereheld voor die Vrystaatse Wetgewer verwyder.

Intussen het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) hul dank uitgespreek teenoor organisasies wat hand bysit om deel van die oplossing te wees.

Jan-Danie Malan, die FAK se kultuurkoördineerder in die Vrystaat, het op 17 November saam met Dirk Venter Hoffmanplein besoek en gesien dat die meeste van die bronsplate waarop gestorwe soldate van die Eerste Wêreldoorlog se name gegrafeer is, verwyder is.

Venter het toestemming van albei die Provinsiale Erfenisliggaam (PHRA) en die Mangaung-metro verkry om die oorblywende ses plate te verwyder sodat dit veilig bewaar kan word.

“Gemeenskapslede het besluit om dié plate te verwyder en die FAK genader vir hulp en sedertdien het verskeie organisasies ingespring om ’n geldelike bydra te maak om die kontrakteurskostes te dek,” sê Malan.

Die standbeeld van Christiaan Rudolf de Wet waarvan die naam en die jaartal waarin hy gebore is en gesterf het, ook van die monument verwyder is.Foto: Lientjie Mentz

“Baie dankie aan die Brandkop Voortrekkers (R500), AfriForum (R2 000) en VF Plus (R2 200) wat elk ’n bydra gemaak het. Ons is trots om gemeenskappe te sien saamstaan en saamwerk vir ’n gemeenskaplike doel. Die bronsplate gaan veilig by die Suid-Afrikaanse Pantsermuseum op die Tempe militêre basis bewaar word,” het hy afgesluit.

“Die Provinsiale Erfenisliggaam sal dan later besluit wat daarmee moet gebeur.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.