Nog medaljes in sy sakkie

Kovsie-pluimbalspeler Robert Summers het in die afgelope Suid-Afrikaanse studentekampioenskap van 1 tot 5 Julie drie titels verower.


Kovsie-pluimbalspeler Robert Summers het in die afgelope Suid-Afrikaanse studentekampioenskap van 1 tot 5 Julie drie titels verower.

Summers speel al van ’n jong ouderdom af vir Suid-Afrika en sy afrigters meen hy toon groot belofte.

Hy het aan die begin van 2023 dié verwagtings begin vervul toe hy in die Afrika-kampioenskap die goud in die dubbelspel gewen het, asook brons in die enkelspel vir Suid-Afrika.

Ongelukkig het die beseringspook hom daarna gery en moes hy baie frustrasie trotseer tussen toernooie en rehabilitasie van beserings.

Begin vanjaar het hy op die Afrika-spele ’n bronsmedalje in die dubbelspel gewen, maar steeds het die beserings gepla; hy het daarna net in uitgesoekte, kleiner toernooie gespeel en die fokus was op herstel.

In die studentekampioenskap in Kaapstad begin Julie het hy getoon dat die beserings nou agter die rug is deur die enkelspel-, dubbelspel- en gemengdespeltitel vir Kovsies te wen.

In die enkelspel het hy verspotmaklik gewen deur nie een stel af te staan in die hele toernooi nie en Tyron Sandison in die eindstryd met 21 – 7, 21 – 3 te klop.

Hy het dit met die dubbelspel opgevolg deur met Barco Scheffer van Maties saam te span en in die eindstryd met ’n Tukkies-Maties-kombinasie klaar te speel, met 21 – 11, 21 – 7.

Die gemengde titel het gevolg vir die voltal van titels, toe hy saam met Pukke se Amy Ackerman die eindstryd teen ’n Pukke-kombinasie 21 – 6, 21 – 7 gewen het.

Robert het nou sowat agt maande voor die volgende Afrika-kampioenskappe om heeltemal in topvorm te kom om dan in 2025 die wêreld weer aan die brand te speel.

You need to be Logged In to leave a comment.