Nog ’n brei-projek begin

Flinke vroue en mans kan die hekelpenne en die breinaalde nader hou vir nog ’n gemeenskaps­projek.


Flinke vroue en mans kan die hekelpenne en die breinaalde nader hou vir nog ’n gemeenskaps­projek.

Ná die reuse-sukses van vanjaar se Brei vir Bloem-projek waarin mense gevra is om vierkante te brei wat eindelik in 185 komberse omskep is, begin ’n nuwe breiprojek sommer nou al.

Altesaam 18 400 vierkante is vroeër vanjaar deur honderde mense van oor die land heen gebrei en gehekel sodat komberse aan bejaardes in verskeie dele van die stad uitgedeel kon word.

Die projek is begin as ’n spanpoging tussen Bloemskou, Bloemnuus en Radio Rosestad ter viering van Bloemskou se 140ste bestaansjaar in 2023.

Komberse is uitgedeel aan die Omega-bejaarde-sorgsentrum in Heidedal, Solidariteit Helpende Hand, Genade in Aksie (GIA), Mooihawe, Lavender-laan in Ons Tuiste, die Striata-aftreeoord, Serenitas, Alquando, asook vir bejaardes in Reddersburg en Zastron.

Vir die winter van 2024 word die publiek genooi om mussies en serpe vir mense klein tot groot te brei. Voltooide serpe en mussies kan nou reeds na Bloemskou se kantoor of by Bloemnuusse kantoor by Pres. Reitzlaan 107 geneem word.

Die projek duur tot einde Maart 2024.

Kontak Bloemskou by 051-448-9894 vir meer inligting.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.