Nkaap

Border Hotel in Hartswater.
Belewenis van glorie van weleer, gekombineer met nuut en modern, is die kenmerke van ’n besoek aan Kimberley.

Die Kimberley-mynmuseum, waarvan die Groot Gat deel is, bly die gewildste besoekpunt in die Diamantstad.

Drentel deur die tipiese myndorpie van weleer waar van ’n kerk tot ’n kroeg van daardie era besoek kan word; asook tipiese woonhuise en werkswinkel. ’n Staptog deur die myndorp is gratis.

Deur toegangsgeld te betaal, kan besoekers op die platform oor die Groot Gat uitstap en hulself indink oor hoe dit meer as 150 jaar gelede gelyk het toe mynwerkers die gat met die hand gegrawe het. ’n Ondergrondse myntoer kan ook teen betaling gedoen word.

Versterk ook die innerlike by een van die restaurante in die kompleks.

Die William Humpreys-kunsgalery, die Africana-biblioteek en die Kimberley-klub is beslis ’n besoek werd.

Ry ook deur die historiese woonbuurte Belgravia en die Memorialweg-gebied, deur Carringtonweg en Milnerstraat, en verstom jou aan huise wat die verlede se glorie uitbeeld. Stop ook by Rudd House, Dunluce en die McGregor-museum.

Moenie vergeet om ’n draai by Bliss Coffee Roastery in Roperstraat te maak nie. Dié koffiewinkel het onlangs die nasionale eerbewys as die gewildste in die land ontvang.

Vir ’n modern, hedendaagse belewenis, besoek die Nare Boutique Hotel in Halkett-straat en geniet iets te ete in hul daktuin wat oor die stad uitkyk.

Vir die wat gaande oor geskiedenis en die natuur is, is dit die moeite werd om vir Jaco Powell, ’n professionele toergids te kontak.

Behalwe vir ’n toer deur die Dronfield-wildreservaat, sal hy ook ander geskiedkundige toere in die omgewing kan begelei of voorstel. Kontak hom op sy webwerf by kalaharisafari.com

Die Magersfontein-slagveld is ook ’n besoek werd. Versterk ook die innerlike by die restaurant by die Magersfontein Memorial Golf Estate – of speel ’n potjie gholf.

Besoek ook die Mokala- Nasionale Park, die nuutste SANPark in die land, wat 80 km buite Kimberley geleë is.

Vir verdere unieke Noord-Kaapse belewenisse in die Kimberley-omgewing, besoek die eksklusiewe en uiters gasvrye Border Hotel in Hartswater; en ook die Klipkraal N12-padstal net buite Hopetown.

You need to be Logged In to leave a comment.