Francois Prinsloo is sedert Desember die bestuurder van die Vrystaat-nasorgsentrum. By hom is sy hond, Storm, wat gereeld by die sentrum kom kuier omdat inwoners nie troeteldiere kan aanhou nie. Agter in die hoek is Francois se Mossie-hoekie waar hy inwoners bemoedig. Foto’s: Lientjie Mentz

Hy het die nuwe uitdaging met oop oë aangepak.

Sé sê Francois Prinsloo, wat in November verlede jaar die korporatiewe wêreld vaarwel toegeroep het om van 1 Desember af die Vrystaat-nasorgsentrum te bestuur.

Aangesien Prinsloo reeds die afgelope twee jaar in die sentrum se raad dien, weet hy presies wat die uitdagings behels.

Deur sy loopbaan by Absa se bemarkingsafdeling en die Absa-stigting was hy baie betrokke by gemeenskapswerk.

“Dit was nog altyd vir my baie lekker om so by mense betrokke te wees.”

Prinsloo vertel dat hy vrae oor sy toekoms begin vra het nadat hy in 2019 in Jordanië onder die Siriese vlugtelinge gaan werk het.

“Ek het myself begin afvra wat ek die volgende paar jaar wil doen. Ná daardie uitreik het ek geweet ek wil met mense werk en werklik ’n verskil maak.”

Hy het op vervroegde pensioen gegaan en gooi nou sy volle gewig agter dié sentrum in.

Dwarsdeur die uitdagings wat deur die Covid-19-pandemie veroorsaak is, het die Here die nasorgsentrum geseën, sê hy.

“Hier by die sentrum probeer ons die pandemie so goed moontlik bestuur. Die dag­werkers werk steeds apart van die inwoners. Ons glo egter dit gaan binnekort moontlik wees om die dagwerkers weer by die res in te skakel.”

Die Vrystaat-nasorgsentrum bied vier werkwinkels waar die 125 inwoners en 15 dagwerkers vaardighede aanleer. Die eerste is die naaldwerkklas, waar artikels vir die winkel gemaak word. Dan is daar ook die houtwerkklas en die klas waar doodsklede vir Avbob gemaak word.

Prinsloo sê die sentrum gebruik nou ook weer die bakkery waar koekies en beskuit gebak word.

“Die belangrikste funksie van die werkwinkels is om inwoners vaardighede aan te leer. Dit is egter ook my droom om die werkwinkels meer te integreer sodat produkte mekaar aanvul en dit vir die sentrum waarde toevoeg.”

Vir inwoners is die nasorgsentrum ’n ware huis.

“Baie het die Kersvakansie hier deurgebring, maar dié wat die vakansie by familie deurgebring het, was baie opgewonde om na hul huis terug te kom.”

Omdat talle van die inwoners baie lief is vir diere en nie self ’n troeteldier kan aanhou nie, bring Prinsloo soms sy weimaraner, Storm, na die sentrum. Dan kan inwoners hom vertroetel en met hom speel.

Prinsloo nooi mense om by die nasorgsentrum in te loer.

“Die inwoners blom as hulle erkenning kry vir die mooi goed wat hulle maak. Ons probeer vir elkeen ’n werkie gee waarvan hy of sy hou.”

Hy sê elkeen van die inwoners is uniek.

“Dit wat jy sien, is dit wat jy kry.”

Hy beskou die sentrum se 39 personeellede as “ware engele”.

Prinsloo sê hy weet dat uitdagings op hom wag, soos moeilike ekonomiese omstandighede wat goeie bestuur verg.

Tog is hy gereed.

“Ek weet ek is nou op die regte plek en sien uit na die uitdaging wat voorlê.”

Corrie Ceronio (54) en Annelien Brits (55) in die houtwerkklas met van die speelgoed wat hulle hier maak.

Jacomien van Wyk vou ’n kis-kussing terwyl instrukteur Miriam Mekgwe toekyk.

Frans Conroy (56) maak plekmatjies in die naaldwerkklas.

You need to be Logged In to leave a comment.