Met die gevatte kommentare oor die Chinese se jongste motorfabrikaat, Sehol, onthou ek weer die ou grappie oor die ruimtewese wat met sy tuig ’n noodlanding op die aarde moet doen, en by ’n vulstasie land.
Soos baie van die spotterny oor die Chinese Sehol is dié grappie oor die noodlanding ietwat moedswillig en grof, maar tog onskuldig en snaaks.
Oor petrolpompe wil ’n mens – met die prys per liter deesdae – nie eintlik praat nie, maar nietemin: Toe daardie ruimtewese die valdeur van sy tuig laat sak en teen die trappe afklim, kry hy koers na die petrolpompe en groet: “Moole, moole, moole, nou hoekom staan julle met julle watsenaams in julle ole?”
Met die onthou van dié grappie en die “watsenaams” daarin, dink ek toe weer aan oorlede oom Dawie van die hoewes.
Vir sommige was hy oom Watsenaam. Vir ander oom Dinges. Want sien, “watsenaam” en “dinges” was deel van sy praat, met die sprak van elke sprook. Só dat ’n mens selde dadelik geweet het wat oom Dawie nou eintlik sê, en die gesprekke dikwels lank geraak het om agter die kap van die byl te kom.
Oom Dawie sou ’n gesprek oor sy gebreekte windpomp begin met iets soos: “Jy weet, ou Watsenaam sê vir my as ek die pomp se dinges wil laat watsenaam, moet ek by Dinges loop aanklop.”
Dít was oom Dawie wanneer hy gepraat het.
Vir oom Dawie sou die wêreld vandag – soos vir almal wat lank reeds salig is – ’n vreemde plek wees. Net soos vir daardie ruimtewese wat noodgedwonge by die vulstasie geland het.
Sou oom Dawie ons wêreld ’n dag lank kon beleef, hoor ek hom al vra: “Nou wat vir ’n plat, klein dinges is dit waarmee almal die heeltyd so watsenaam?”
En: “Watsenaam se dinges is dit wat die mense so in hul ore het?”
Hoe verduidelik ’n mens slimfone en Bluetooth-oorfone aan iemand soos hy, wat al voor die koms van TV oorlede is?
Ek sien al sy mond oophang wanneer ek vir hom wys ’n klein slimfoon is sy huistelefoon, ou Blaupunkt-radio-platespeler, die koerant, ’n padkaart en kompas, kamera en rolprentkamera, én ’n rolprentskerm, alles in een.
Ek sien die verwondering wanneer ek vir hom “Silver de Lange” en Marlene Dietrich op Spotify laat luister. Vir hom Mannetjies Roux se drie in die vierde toets teen die Britse Leeus in 1962 in Bloemfontein op YouTube laat kyk. Vir hom Some like it hot met Marilyn Monroe in die hoofrol stroom. En vir hom wys dat hy die rugby doer oor die see, op die oomblik dat dit gespeel word, op dié klein watsenaam kan kyk.
Ek hoor oom Dawie sê: “Maggies, ou Dinges. Watsenaam se dinges vertel en wys jy my nou!”
Maar ek sou oom Dawie dié enkele dag die aakligheid van sinnelose bekgevegte op sosiale media spaar. Ek sou hom ook nie die video wys wat onlangs “viral” gegaan het nie, van die angsbevange Klerksdorpse man wat in ’n besige straat gewapende rowers met ’n mes afweer, om sy vrou en dogters te beskerm.
Want ek kan ’n ontstelde oom Dawie hoor sê: “Watse dinges is dit dié? Hoekom sal iemand ’n watsenaam staan en maak, maar niemand help nie? Wat het dan geword van die barmhartige watsenaam? Jy weet mos, die ene van die Bybel.”