Die Fakulteit Ingenieurswese, Bou-omgewing en Inligtingstegnologie (FEBIT) aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), Vrystaat, het die gesogte eredoktorsgraad in meganiese ingenieurswese (honoris causa) aan sy skerpsinnige alumni William Hlakoane toegeken.
Die ontvanger is ‘n meganiese ingenieur van beroep en dien tans as die uitvoerende beampte van die Denel-groep in die binneland.
Hlakoane kom van Thabong, Welkom, in die Lejweleputswa-distrik van die Vrystaat. Hy het sy nasionale diploma en Baccalaureus in tegnologie in meganiese ingenieurswese albei aan die SUT verwerf.
Volgens Hlakoane het sy reis op die gebied van ingenieurswese in sy vroeë kinderjare begin toe hy en sy maats draad gebruik het om motors te bou.Hy was ‘n nuuskierige kind wat altyd daarvan gehou het om sy hande besig te hou en dinge uit te vind.
“As kind het ek dit geniet om dinge aanmekaar te sit en uitmekaar te haal; en ek was ook mal daaroor om draadkarre te maak. Ek dink ek sou die eerste mens kon wees wat ‘n motor van aluminium of sinkplate sou maak. Ek was ‘n baie nuuskierige jong seun, so dit was geen verrassing dat ek in die ingenieursveld beland het nie,” het hy gesê.
Met sy aankoms by die SUT 33 jaar gelede, destyds toe dié instelling die Technikon Vrystaat genoem is, het Hlakoane sy visier daarop gestel om elektriese of siviele ingenieurswese te studeer – albei programme was egter vol. Hy het hom vir studie in meganiese ingenieurswese geregistreer, maar vele uitdagings sou nog voorlê.
Hy het gesê die eerste hiervan was om in Afrikaans leer nadat hy sy basiese onderrig in Engels ontvang het. Hy het egter die uitdaging die hoof gebied en ‘n ondersteuningsverhouding met sy dosent, prof. Deon de Beer, ontwikkel.
“Dit was ‘n baie goeie verhouding. Hy was die hoof van die departement meganiese ingenieurswese, en hy was ‘n dosent in meganika. Ek dink hy was destyds die enigste dosent wat klasse in Engels én Afrikaans aangebied het. Miskien het ons so goed oor die weg gekom danksy my nuuskierigheid, of omdat ek gretig was om te leer,” het Hlakoane verduidelik.
Vasberade en gretig om te leer, het hy met ‘n woordeboek gesit en al sy studiemateriaal vertaal – wat vrug afgewerp het namate hy die taal begin verstaan het.
Hy is selfs gewerf om ander studente met vertalings te help en het eindelik ‘n dosent-assistent geword.
Hlakoane se toewyding het toegesien dat hy vir ‘n beurs kwalifiseer, wat gehelp het om geldelike druk te verlig.
“Ek was destyds baie gedrewe. Ek het my eie drome as kind gehad – jy weet, ‘n groot huis, al daardie soort dinge – en dit was wat ek wou doen. Dit was dus ‘n vasberadenheid van my kant om sukses te behaal.”
Hlakoane het gesê die aankondiging dat die gesogte eregraad aan hom toegeken sou word, het hom trots en emosionele vreugde gebring.
“Ek was in trane. Dit het my laat terugdink aan waar dit alles begin het. Ek het teruggedink aan die verhouding wat ek met die instelling het, van die goeie ou dae tot nou, en alles wat ek deur my loopbaan bereik het. Uit ‘n miljoen van die dinge wat ek ooit in my lewe wou hê, is hierdie eer en erkenning die een wat ek en my familie vir altyd sal koester.”
Op ‘n vraag oor sy leierskap en hoe hy dit regkry om veelvuldige rolle te vervul, het Hlakoane gesê hy het nog altyd die benadering gevolg om homself met al die beskikbare kennis te bemagtig en daarop aan te dring om nie net op een spesifieke werksrol te fokus nie.
“Ek wou nog altyd kundig wees, maar wat vir my uitstekend in my loopbaan was, is die vermoë om in verskillende omgewings te kan werk en my ingenieurskennis in verskeie aspekte van besighede toe te pas.
“Mense vra my altyd hoekom ek so baie weet, en my antwoord is eenvoudig: nuuskierigheid.”
Hy het bygevoeg dat sy vermoë om baie rolle in verskillende omgewings te vervul, hom in staat gestel het om te wees waar hy vandag is.
“Selfs buite my loopbaan, sê ek altyd, gee die lesse wat by die skool geleer word jou net ‘n sekere vlak van denke of kennis. Dit gaan oor hoe jy dit gebruik om meer kennis buite daardie lesse te hê.
“Gebruik dieselfde kennis wat jy opgedoen het om verder te gaan as wat jy hier opgedoen het,” het hy gesê.
Hlakoane het sy eredoktorsgraad aanvaar en gesê hy is trots op die universiteit vir dit wat die instelling geword het.
“Ek is ‘n baie trotse alumni van
hierdie instelling, en ek wens julle almal die sukses toe wat julle verdien.”
