Trotse pa en oupa Mike van Rooyen saam met sy dogter, Michelle Blaikie en kleinseun, Leo (5).Foto: verskaf


Hulde stroom in vir Mike van Rooyen (73), eertydse hoofverslaggewer en nuusredakteur van Volksblad en joernalis wat as een van die bestes tot nog toe in die Vrystaat onthou sal word.

Van Rooyen, wat ná sy uittrede in 2015 by Volksbladná bykans 40 jaar steeds as vryskut spesialishofverslaggewing vir Netwerk24 en Volksblad diens gedoen het, is vroeg Vrydagoggend in die Mediclinic Bloemfontein aan kanker dood.

Hy het tot onlangs nog die verslaggewing oor die verhoor ná die moord op Louis Siemens, in lewe besturende direkteur van die CityMed-daghospitaal in Bloemfontein, behartig. Van Rooyen was by uitstek ’n spesialishofverslaggewer wat oor die dekades oor die meeste groot hofsake in die Vrystaat geskryf het. Sy kennis van die reg en joernalistiek het hom ook ’n gerespekteerde in die regsberoep gemaak. Regslui beskryf hom as ’n uitnemende hofverslaggewer wat die ingewikkeldste verhoor of geding feitelik korrek en helder in sy berigte weergegee het.

Oudregter Faan Hancke van Bloemfontein sê: “Hy het oor verskeie hofsake waarin ek betrokke was rapporteer, en sy beriggewing was altyd korrek en foutloos.”

Van Rooyen, wat in 1976 by die koerant begin werk het, het oor groot gebeure soos die Virginia-slikdamramp, toe 12 jokkies op 12 April 1988 in ’n vliegongeluk in die Vrystaat dood is, die kol. Mike Hoare-huursoldaatdrama in die 1980’s, die Laingsburg-vloed en die Reitz-4-verhoor verslag gedoen. Hy was oor dekades leermeester en mentor vir talle joernaliste wat by Volksbladbegin het. Dirk Kok, redakteur van Volksblad, sê Mike was vir hom, soos vir soveel ander joernaliste, ’n nuushoof en mentor by uitstek. Maar hy was veel meer as Mike die gedugte nuusman.

“Jy kan maar sê hy was vir baie van ons by Volksblad soos ’n tweede pa. Hy het ons nie net van nuus geleer nie, maar ons geleer oor die lewe – en hy het ons deur dik en dun ondersteun,” sê Kok.

Volksblad en die Volksblad-familie is armer sonder Mike. Hy leef voort in ons hart en gedagtes.”

Kaydene Davids, hofverslaggewer van Netwerk24 en Volksblad, was die laaste tyd baie met haar mentor en vriend in kontak.

“Mike, daar sal nooit genoeg woorde wees om dankie te sê vir wat jy vir my, nie net in my professionele lewe nie, maar ook in my persoonlike lewe, beteken het nie. Dankie vir al die jare se touwysmaak, jou mentorskap en vriendskap. Dankie vir die lekker koffie en geselsies langs jou eetkamertafel. Al die staaltjies, stories en wyse raad. Bowenal, dankie dat jy deur my bravade gesien het en vra wat’s fout en daarna deur die gehuil my moed ingepraat het en wyse raad gegee het. Ek eer jou nalatenskap en sal voortbou op dit wat jy my geleer het. Mooi loop, Mike.”

Van Rooyen word deur sy dogter, Michelle Blaikie, oorleef. Sy en haar man, Sean, en seun, Leo (5), woon in Kelso, Skotland. Sy was betyds in Bloemfontein om die laaste dae saam met haar pa deur te bring. Hy word ook deur ’n suster, Marida Botha van Welkom, en ’n stiefdogter, Mandy Letnik van Johannesburg, oorleef.

  • Van Rooyen se vriende en kollegas by Volksbladen Netwerk24 sal hom op ’n spesiale saamtrek groet.

You need to be Logged In to leave a comment.