Gert Coetzee met sy roman Lens.
Gert Coetzee met sy roman, Lens – op die nuuspoor. Foto: Lientjie Mentz Credit: Lientjie Mentz

Lientjie Mentz

Anders as Afrikaanse skrywers wat vroeër in hul lewe joernaliste was, sien Gert Coetzee homself beslis as ‘n joernalis wat ‘n roman geskryf het.

Dié voormalige redakteur van Volksblad se roman, Lens, het onlangs verskyn en daar is geen twyfel oor sy diepe insig oor die
binnewerk van ‘n nuuskantoor en die intriges van politiek nie.

Coetzee noem sy debuut ‘n politieke spanningsroman eerder as ‘n krimi.

Die verskyning van Lens volg op byna 15 jaar se werk, wat eers die laaste twee jaar – vandat hy in 2022 as redakteur van Volksblad afgetree het – sy volle aandag kon kry.

Coetzee het in 2010 met die idee van die manuskrip sy MA-graad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangepak. Ná sy eerste manuskrippoging moes hy hoor hy is op die verkeerde plek as hy ‘n handboek oor die joernalistiek wou skryf.

Gert Coetzee met sy roman Lens.
Gert Coetzee met sy roman, Lens – op die nuuspoor. Foto: Lientjie Mentz Credit: Lientjie Mentz

“Ek het besef ‘n roman moet ‘n heel ander aanslag hê en dat die skryf van ‘n berig baie verskil van die skryf van ‘n roman.”

Sy meer as 35 jaar in die joernalistiek, waarvan hy sewe jaar (2015 tot 2022) die redakteur van Volksblad was, was ‘n goeie wegspringpunt.

“Die moeilikste was karakterontwikkeling binne ‘n bepaalde ruimte. By die verhaallyn moes konflik, kinkels en geheime ingebou word.”

Lens speel hoofsaaklik af in die Suid-Afrikaanse politiek onstabiele oorgangsjare van 1988 tot 1990, en die hoofkarakter, Chris Meyer, is ‘n jong verslaggewer by die dagblad Oggendspieël.

Binne dié bedrywige kantoor het Coetzee karakters geskep, en hy beskryf hoe so ‘n span veral vroeër jare gefunksioneer het.

Die verhaal speel af teen die agtergrond van die egpaar dr. Albert en prof. Hillerie Strydom wat in die jare 1970 onder verdagte omstandighede in ‘n ongeluk dood is. Dit beskryf die politieke magstryd met die oorgangsregering van

pres. PW Botha na pres. FW de Klerk en die werking van Nasionale Intelligensie agter die skerms. Feite en fiksie wissel mekaar soomloos af vir ‘n storielyn wat boei en die leser meesleur.

Ná aftrede kon Coetzee die storielyn verfyn.

“Ek het die verhaal eers chronologies geskryf en toe weer uitmekaargehaal om dit boeiend te skryf.”

Coetzee sê daar was talle ontoevallige toevallighede met die bekendstelling van die boek.

“Dit het saamgeval met die dood van dr. Niël Barnard, destyds die hoof van die Nasionale Intelligensie, wat saam met ander historiese en politieke figure in die jare 1980 ‘n gedramatiseerde rol in Lens vervul.”

Daarmee saam nog die sluiting van Volksblad, eers as gedrukte koerant en toe as e-publikasie, wat aan die boek ‘n goeie skeut nostalgie gee van hoe dinge was.

“As die nuusredakteur in die boek iets vir ‘n verslaggewer sê, het ek altyd gedink: Wat sou Mike sê?”

Daarmee verwys hy na Mike van Rooyen, jarelange nuusredakteur wat verlede jaar oorlede is. Coetzee dra sy boek op aan Mike en ook aan Dirk Kok, wat met sy dood verlede jaar Gert se opvolger as redakteur van Volksblad was.

• ‘n Gesprek oor Lens vind op 23 April om 18:00 by Lejit Lekker in die Southern-sentrum in Fichardtpark plaas. Geen toegangsfooi – gaste betaal drink- en eetgoed. Bevestig bywoning per WhatsApp by 083 459 1039 of stuur e-pos na

gcoetzee26d@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.