Die bekende Suid-Afrikaanse kitaarspeler Dan Patlansky kom kuier in Bloemfontein om sy splinternuwe album, Shelter of Bones, bekend te stel.
Dit is dié bekroonde blues-rock-musikant se tiende ateljee-album.
Die album is oor ’n tydperk van drie jaar, van 2019 tot 2021, opgeneem.
“Die pandemie het my tyd gegee om aan die album te werk en regtig te dink oor hoe ek die snitte wil aanbied,” sê hy.
“In talle opsigte het ek probeer om te bly by die klank van my vorige albums waarvoor ek bekend geword het,vir ’n verskeidenheid liedjies, maar ek het beslis hier en daar afgewyk. Ek het nog altyd ’n album gesien as ’n tydkapsule wat ’n kunstenaar in ’n bepaalde tyd van sy lewe verteenwoordig.”
Vir Patlansky was dit drie jaar van hoogtepunte en laagtepunte, en die proses was vir dié begaafde kitaarspeler ’n interessante reis.
“Shelter of Bones is ’n presiese voorstelling van wie ek nou as kunstenaar is, met ’n moderne kinkel van dit waarvoor ek die liefste is: blues.”
¦ Patlansky is op Saterdag 12 Maart om 20:00 in die Aasvoëlklub te sien. Die deure open om 18:00. Aandete kan gekoop word en daar is ’n kontantkroeg.
Kaartjies is teen R180 op phoenixpro.co.za beskikbaar, of skakel 079-796-7975.


