Die jaarlikse gala-konsert van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se koor is ‘n hoogtepunt op die musiekkalender, en beloof vanjaar om weer gehore te bekoor met ‘n program vol diversiteit en musikaliteit.
‘n Nuwe datum is hierdie week aangekondig en die konsert wat aanvanklik vir 21 Oktober beplan was, vind nou Woensdag 29 Oktober plaas.
Die UV-koor het pas teruggekeer van ‘n suksesvolle toer na Johannesburg, waar hulle die verhoog gedeel het met die kore van die Universiteit van Johannesburg (UJ), die Universiteit van Pretoria (UP) en die Noordwes-Universiteit (NWU).
Nou is hulle gereed om plaaslike gehore te betower met ‘n vertoning wat klassieke koormeesterwerke kombineer met lewendige Afrika-komposisies.
Onder leiding van Werner Stander en met klavierbegeleiding deur dr. Frelét de Villiers, sal die koor eenheid deur musiek vier. Die program sluit werke in van internasionale komponiste, sowel as plaaslike talent.
“Ons is veral opgewonde om Bagaetsho Dumelang uit te voer – ‘n groetelied wat deur ons eie koorlede, Neo Madisha, Mamello Thoo en Realeboga Kiti, gekomponeer is,” sê Stander.
“Die stuk het vroeër in 2025 uitstekende terugvoer van gehore ontvang.”
Met ‘n repertoire wat oor eeue en kontinente strek, sal die konsert gehore ‘n diepgaande musikale ervaring bied wat die koor se veelsydigheid en Suid-Afrika se ryk koorerfenis weerspieël.
Die vertoning vind plaas op Woensdag om 18:00 in die Odeion-ouditorium.
Kaartjies is beskikbaar by Quicket.co.za of by die deur. Pryse begin by R50.


