Michael Garbett, wat vanjaar as die artistieke direkteur van die Vrystaat Kunstefees gedien het, is Donderdag (01/12) as feesdirekteur aangewys.
Die Raad van die Vrystaat Kunstefees en die feesspan het Corneli van den Berg bedank vir haar toegewyde diens, wat die fees ná die pandemie gelei het.
Op ’n navraag van Bloemnuus oor personeelvermindering, het Mark Dobson, bemarking- en ontwikkelingsbestuurder, gesê die feesbestuur word op jaarkontrakte aangestel en almal se kontrakte kan nie altyd hernu word nie.
Garbett se aanstelling volg kort op ’n nuusverklaring Dinsdag (29/11) waarin genoem word dat die raad ondersoek instel na die besluite en optrede wat tot die laat betaling van kunstenaars ná die 2022-fees gelei het.
In die verklaring sê die raad hy is bewus van boodskappe op die sosiale media en berigte in die media oor terme en tydlyne van beoogde vergoeding.
Die Vrystaat Kunstefees het met die kunstenaars in gesprek getree, en stappe word gevolg om die betaling so gou moontlik te doen.
Volgens die verklaring het die lae kaartjieverkope vir die 2022-fees, wat weens die Covid-19-pandemie in Oktober aangebied is, tot kontantvloeiprobleme gelei.
Die voorsitter van die raad, De Villiers Brink, is gaande oor die nuwe energie wat Michael na die pos as direkteur bring.
“Ons is baie opgewonde om ’n gerespekteerde artistieke leier te hê as gids vir ons visie vir die Vrystaat Kunstefees. Michael bring ’n breedvoerige kennis van die industrie en feesbedrywighede, ’n werklik internasionale perspektief en ’n skatkis vol ondervinding en konneksies,” sê Brink.
Met die oorneem van die leisels lê Garbett sy visie uit. “Ek voel geeërd om die taak van feesdirekteur op te neem van ’n fees waarvoor ek lief is en eer. Ek sien daarna uit om die fees se herder te wees, juis op hierdie kritieke oomblik in sy ontwikkeling,” sê hy.
“Ek glo die Vrystaat Kunstefees behoort voort te gaan om vernuwing binne die verskillende dissiplines te vertoon en te koester. Die fees bied die ideale konteks vir dialoog en tegemoetkoming.
“
.”
Volgens die Vrystaat Kunstefees word ’n plan beraam om die kunstenaars teen Februarie te betaal.
Die feeskomitee sê aangesien die fees volgende jaar weer in die tradisionele tydgleuf van 11 tot 15 Julie gaan plaasvind, sal finansiële projeksies en die bestuur van geld weer effektief en kunstenaar-georiënteerd toegepas kan word.