Nuwe era breek aan vir Siësta in Bloemfontein

’n Nuwe era het vandeesmaand vir die Siësta-aftreeoord in Dan Pienaar aangebreek met Bloemfontein Hospice wat die bestuur van die oord oorgeneem het.


’n Nuwe era het vandeesmaand vir die Siësta-aftreeoord in Dan Pienaar aangebreek met Bloemfontein Hospice wat die bestuur van die oord oorgeneem het.

Hanneke Lubbe, algemene bestuurder van die nuwe gekombineerde dienssentrum, sê hulle het op ’n punt gekom waar ’n besluit oor die toekoms van die twee sentrums geneem moes word.

“Die uitdaging om Siësta op ’n nuwe vlak van dienslewering en versorging te kry, was dringend, veral wat die geldelike implikasies betref,” sê sy.

“Die hospies het bly groei – van twee beddens drie jaar gelede toe dit die eerste keer by Siësta oopgemaak het, tot sewe kamers wat nou gebruik word. En daar is heeltyd ’n behoefte vir verdere uitbreiding, wat ons sal kan doen.”

Lubbe sê die groot stap om Siësta se bestuur oor te neem, maak vir almal sin.

“Die hospies het die afgelope twee jaar in ’n toenemende mate gehelp om die maandelikse rekening van Siësta te dra. Dit is veral te danke aan siekefondse wat betaal vir die palliatiewe sorg wat hospies-pasiënte ontvang.”

Lubbe sê sowat 40% tot 45% van pasiënte wat palliatiewe sorg kry, het siekefondse, terwyl die res staatspasiënte is.

Sy sê hoewel die meerderheid van dié pasiënte tot aan die einde by hul huise versorg word en Bloemfontein Hospice se personeel en vrywilligers hulle daar besoek, is daar dikwels behoefte vir ’n plek waar die pasiënte gemaklik gemaak kan word. By die hospies kan die pasiënt onder die sorg van ’n span, wat mediese personeel insluit, holisties versorg en gemaklik gemaak word. Dit bied ook ’n gerieflike plek waar families kan kom kuier en berading kan ontvang.

“Ons visie is om die eerste dienssentrum van sy soort in die Vrystaat in te rig wat ruimte het vir ’n aftreeoord, ’n versorgingseenheid en ’n palliatiewe afdeling. Ons wil ’n sentrum bedryf waar opleiding vir hospies-vrywilligers en versorgers toenemend kan plaasvind, terwyl ons ook ’n plek in die gemeenskap wil bied waar ondersteuningsgroepe byeenkom.”

Lubbe sê daar is baie uitdagings, maar bowenal meer potensiaal op die nuwe roete wat nou ingeslaan word.

“Ons wil die ruimtes binne en buite die sentrum opknap en onder meer ’n groentetuin vestig wat as deel van terapie vir die hospies-pasiënte en ander inwoners ingespan kan word.”

Gesprekke word met die inwoners van Siësta gevoer om die oorgangsproses te vergemaklik.

“Daar is so ’n groot behoefte vir dit wat ons hier by so ’n gevorderde en palliatiewe sentrum sal kan bied,” sê sy.

Die bestuur is op 1 April aan Bloemfontein Hospice oorhandig, met die vorige bestuurder, JJ Calitz, wat reeds ’n nuwe bestuurspos by ’n ander onderneming beklee.

Lubbe gaan voort met haar werksaamhede by Bloemfontein Hospice, asook die bestuur van Siësta, met Carla Heyns wat as operasionele koördineerder die dag-tot-dag bedrywighede gaan waarneem.

Ds. Jan Lubbe, die voorsitter van Siësta se direksie, nooi die gemeenskap om aktief betrokke te raak by die nuwe hoofstuk van Siësta se verhaal – wat reeds in 1953 begin het.

“Só gaan ons ‘n nuwe, vertroude tuiste skep, vir ‘n ieder en ’n elk wat ons by Genl. Conroystraat 5 kom besoek, hier kuier en uiteindelik wil oorbly,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.