Dis geen nuus dat die regering – en veral die Vrystaatse regering – ons in die steek gelaat het nie. Tussen beurtkrag, korrupsie, watertekorte, slaggate, vullissakke en stygende koste vir dienslewering (wat nie plaasvind nie) het niemand lus om nog ’n rubriek oor munisipale sorge te lees of stem des roepende in die woestyn aan te hoor nie.
Tog is dit die pyn wat ons stil verdra wat al hoe seerder word.
Hulle was op pad terug van die kerk af. Reën en beurtkrag het die slaggat verskuil.
Twee bande afgeskryf.
Sondagaand.
Waar sal hul hulp vandaan kom? Wie gaan stop? Iemand wat wil help of iemand met ander motiewe? Die onsigbare gemors van ’n maalkolk-regering. Ons kan nie meer vertroue in enigiemand plaas nie – ons sien mos hoe hooggeplaaste misdadigers woer-woer met geregtigheid speel. Ons lees hoe onskuldige mense in hul huis, op staproetes en op straat beroof en verniel word. Ons verloor ons menslikheid want om menslik te wees, stel ons aan moord, roof en verkragting bloot.
Niemand praat in die parlement oor verflenterde bande of gebreekte vertroue nie. Entrepreneurs wat deur vrot Covid-verwante leierskap die onderspit moes delf, se klein ondernemings het verdwyn.
Toegeplakte winkelvensters in inkopiesentrums vertel in stilte die verhale van slapelose nagte. Sente was omgekeer. Hardwerkende mense moes afgelê word. Harte het gebreek.
In stilte het mense se siel gesterf.
Die skandvlek van werkloosheid is teerder en seerder as wat nuusbulletins en ekonomiese verslae kan berig. Dis die stories wat ons nie hoor nie, wat die hardste praat. Trots laat mense in stilte met hul eie vertwyfeling stoei. Was ek nie goed genoeg om ’n besigheid te bestuur nie? Om vir my gesin te sorg nie? Waar het dit skeefgeloop? Moes ek dinge anders doen?
Twyfel smoor die laaste hoop tot as.
En net wanneer hoop skyn te verdwyn, is daar ’n flonkeringe lig aan die einde van ’n slaggatbelaaide tonnel.
Die Universiteit van die Vrystaat staan stadig uit die klaskamerlose newels van aanlyn leer op.
Op ’n gradeplegtigheid verlede week spreek die kanselier die gehoor toe. Hy skets die verrottende prentjie van hoe korrupsie ons almal tot ons knieë gebring het. Hoe onverantwoordelike leierskap die armstes en die weerloses gebreek het.
Die saal is stil. Die sit was lank. Waarop stuur hierdie toespraak af?
Dan, die draaipunt.
Die kanselier betoog dat die huidige regering ons gebreek het. Dat ons ons stem moet laat hoor. Dat ons ’n verskil moet maak. Ek luister, maar ek voel steeds asof dit te laat is.
Maar dit gaan nie oor my nie.
Want toe die toespraak eindig, gooi die nuwe geslag graduandi hul hooftooisels in die lug. Ouers staan op en die applous dawer deur die saal.
Die deure gaan oop.
Die herfslig stroom die Callie Human-sentrum binne. Die prosessie akademici verdaag.
Die studente stap uit.
Nie net het hulle ’n graad voltooi nie. Hulle het dit gedurende ’n pandemie gedoen.
Hulle het hulself bewys.
Hulle kan, hulle wil, hulle sál dinge verander.
Hulle is uitstekend daarvoor gekwalifiseer.