Ses Bloemfonteinse skole se hoofde is op Woensdag 28 Mei amptelik aangekondig.
Gelukwense het die afgelope week ingestroom vir die nuut aangestelde hoofde van die Laerskool Willem Postma, Hoërskool Bloemfontein, Laerskool Onze Rust, Laerskool Sand du Plessis en Laerskool Olympia en ook die Laerskool Jim Fouché wat nou amptelik in dié poste diens doen.
Sakkie Matthee het die afgelope twee jaar as hoof van Willem Postma waargeneem. Voor dit was hy van 2019 af adjunkhoof by die skool.

Matthee sê vanweë die ervaring wat hy die afgelope paar jaar opgedoen het en die vertoue wat die beheerliggaam in hom gehad het om besluite te neem, neem hy die pos met ‘n rustige hart in.
Opwindende planne by die skool sluit in ‘n splinternuwe kunshokkiebaan wat binnekort op die skoolterrein van die Hoërskool Sentraal vir Willem Postma gebou gaan word.
“Wanneer die hokkiebaan voltooi is, sal dit ons die geleentheid bied
om groot toernooie aan te bied,” sê Matthee.
Willem Postma vier vanjaar sy 80ste bestaansjaar en kyk terug op ‘n lang en goeie tradisie.
Die skool is vir die 2024- akademiese jaar as die Mangaung Metro-onderwysdistrik se toplaerskool aangewys. Saam met die pre-primêre skool het Willem Postma nou 1 040 leerlinge.
“Die hart van ons skool is Christenskap wat by ons voortleef. Dit is vir ons baie belangrik dat die kinders gelukkig is – kinders wat nie gelukkig is nie, kan nie presteer nie.”
Sakkie Meyer, wat die afgelope twee en ‘n half jaar as hoof by Sand du Plessis waargeneem het, is ook amptelik in dié pos aangestel.

Sand du Plessis aangestel. Foto’s: Verskaf
Meyer was sedert 2016 departementshoof by Sannies, en voor dit was hy van 2007 tot 2015 ‘n onderwyser by Grey-kollege (primêr).
Vir Meyer en sy span is 2025 ‘n groot jaar.
“Ons het daarnatoe gewerk om van 2026 af ‘n paralelmediumskool te word. Die proses is deur die departement van onderwys verhaas en ons het dié proses aan die begin van die jaar binne ‘n week gedoen.”
Altesaam 110 kinders het hulle ingeskryf vir die laerskool wat in Langenhovenpark gebou word. Dié Engelse leerlinge, van gr.R tot gr.3, het gou ingepas.
“Die samewerking van die beheerliggaam en personeel, asook die ouers van bestaande leerlinge, was ‘n riem onder die hart,” sê Meyer.
“Hul aanpasbaarheid in dié tyd van verandering maak ‘n mens baie opgewonde oor die toekoms.”
Die skool het nou 355 leerlinge.
Hy sê die skool sal sy Afrikaanse kultuur en tradisies behou, maar ook bykomende tradisies vir die nuwe groep kinders skep.
“Die trots en lojaliteit van ouers en kinders aan die skool is wat die Laerskool Sand du Plessis baie spesiaal maak.”
Een van die ander skoolhoofde wat Woensdag amptelik aangestel is, is Jaco Richards by Onze Rust.
Richards sê sy foon het Dinsdag nie ophou lui nie soos wat ouers van leerlinge en talle oudleerlinge hom met die aanstelling geluk gewens het.

hoof by die Laerskool Onze Rust aangestel.
“Ek is baie dankbaar. Dit voel vandag of ek 23 jaar gewerk het om te kom waar ek is.”
Richards is, met onderbrekings, sedert 2005 by die skool betrokke.
“Ons het wonderlike ouers. Vroeër vanjaar het 1 200 leerlinge en hul ouers ‘n braai by die skool bygewoon. Wat ‘n heerlike ervaring.”
Die skool het 79 personeellede.
“Hulle is die beste in die stad. Hul entoesiasme is ongekend.”
Hy het aan die begin van die jaar vir elke personeellid ‘n bonsai-boompie gegee wat hulle moet versorg.
“Dit stel elke kind voor wat hier by ons groei en diep wortels moet kweek,” verduidelik hy.
Richards kan nie uitgepraat raak oor hoe goed Onze Rust se leerlinge vaar nie.
Die skool se eerste rugbyspan is al in 16 wedstryde onoorwonne. Boonop spog die skool met 42 provinsiale spanne en was verlede jaar vierde op die departement se lys van akademiese presteerders.
Rudolf Fourie is aangestel as die nuwe laerskoolhoof by Jim Fouché. Dié skool het Donderdag Fourie se amtelike aanstelling as skoolhoof gevier.
Stephan Scott, as die nuwe hoof van die Hoërskool Bloemfontein en Bernard Holzhausen, as die nuwe hoof by Olympia in Heidedal.
You must be logged in to post a comment.