Kort ná ’n berig in Bloemnuus oor die swak onderhoud van die stad se paaie en die groot uitdaging met dowwe verkeerstrepe veral rondom skole, het “engele” gekom en die verkeerstrepe by die Laerskool Brandwag geverf.
Bloemnuus het op 4 Augustus berig dat die dowwe voetoorgange by talle skole in die stad gevaar vir leerlinge inhou.
Die ingenieursfirma Raubex het net ’n paar dae later begin om die verkeersstrepe by die voetoorgange by dié skool te verf en veral die klein verkeersirkel in Melvillerylaan by Durantstraat weer duidelik te verf.
Die skoolhoof, André Venter, sê hulle het net gesien mense verf daar rondom die skool.
Werner Pretorius het hard geveg om amptenare van die Mangaung-metro te kry om die gevaarlike plekke waar verkeersstrepe dof is en daar dikwels verkeerstekens ontbreek, te besoek.
Tammy Morey, wykskomiteelid, het Bloemnuus op 8 Augustus laat weet dat werknemers van Raubex rondom die skool verf.
“Dit lyk sover ongelooflik mooi en ek glo mense sal nou versigtiger bestuur veral by dié skool,” sê sy.
“My hart juig en namens ons inwoners in Brandwag sê ek vir Raubex en dié manne duisend dankies. Ons waardeer dit opreg en dankie dat julle ook ’n groot verskil maak in ons gemeenskap.”